Die Here se wil

Die Here se wil – Francois Malan

Jan vra:

‘n Persoon lewer ‘n getuienis en sê dat hulle kind van 15 maande raak weg uit die geselskap en toe hulle begin soek staan die hekkie na die swembad oop en die kind dryf gesig na onder in die water. Toe hulle hom uithaal is hy reeds potblou en alles wat hulle doen help niks. Dokter toe, hulle pogings rig ook niks uit nie behalwe dat hulle vir die kind bid. Intussen bel die ouers al hulle kennisse om vir gebede vir die kind te vra. Duidelik kom boodskappe deur dat die kind sal lewe. Na ‘n tyd begin die die hartjie te klop maar die kind is in ‘n koma. Wakker word tyd sal 9 uur wees maar die dominee sê kom ons vra die Here vir 6 uur. So is dit toe en die kind word wakker.

Die pa kry die versekering van die Here dat die kind niks sal oorhou nie en dit blyk toe ook die waarheid te wees. Hierdie gebeurtenis bring die ouers en al die ander nader aan die Here en kry die Here al die eer. Wat moet mens van so scenario dink. Die ouers is agtelosig en die kind kon dood gewees het. Kan mens vra hoekom die Here ‘n kind sal laat swaar kry om die ouers tot ander insigte te bring. Ek wonder?

 

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Hoekom wonder jy waarom die Here die kind laat swaarkry? Is dit dan nie, soos jy sê, die ouers se nalatigheid wat die kind laat swaarkry nie? En die Here se genade dat die kind aan hulle teruggegee word nie? Hoekom blameer ons die Here as ons verkeerd optree? Hoekom loof en prys ons nie die Here oor sy wonderlike goedheid dat Hy hier ‘n besondere uitsondering gemaak het en die kind laat lewe het nie?

 

Elia het gebid en die Here het die weduwee van Sarfat se seuntjie wat van siekte gesterf het se lewe laat terugkom (1 Konings 17:17-24). Van hierdie weduwee aan wie die Here daagliks kos voorsien het in die tyd van hongersnood, sê Jesus in Lukas 4:25-26 dat daar in daardie tyd van die drie jare hongersnood baie weduwees in Israel was, maar dat die Here vir Elia na dié weduwee in die heidense gebied van Sidon gestuur het om haar en haar seun saam met Elia aan die lewe te hou (1 Kon 17:15-16). Dit het die mense van Jesus se grootwordstad Nasaret woedend gemaak en hulle het probeer om Hom dood te maak oor hierdie besondere uitsondering wat God gemaak het, en dit vir ‘n heiden.  

 

Die vier Evangelies meld slegs van drie persone wat Jesus uit die dood opgewek het: die 12-jarige dogtertjie van Jaïrus (Mk 5:22,42 en Lk 8:41,55), die jongman, die enigste seun van die weduwee van Naïn (Lk 7:11-15), en Jesus se vriend Lasarus (Joh 11). Terwyl die Evangelies van baie genesings vertel, is daar slegs die drie besondere uitsonderings.

 

Die Here is vrymagtig om te doen wat Hy wil. Hy weet wat vir ons die beste is, voorspoed of teenspoed (Prediker 7:14); dat ons sal leer om te bid dat sy wil geskied (vgl. Jakobus 4:15), en ons daarby te berus en ons daarin te verheug. ‘Ons weet dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, diegene wat volgens sy voorneme geroep is..’ (Rom 8:28), ‘…oortuig dat geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige gebeure, of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping ons kan skei van God se liefde wat daar in Christus Jesus ons Here is nie’ – selfs nie die dood nie (Rom 8:38-39).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




God se wil en die mens se wil

God se wil en die mens se wil – Francois Malan

Karen vra:

Is dit so dat God nie kan of sal teen ‘n mens se wil gaan nie? Indien wel, maak dit nie sin om dan bv jou hele lewe lank vir jou kind te bid as hy as volwassene in elk geval dalk verkeerde keuses maak en God dan nie teen sy wil sal gaan nie. Dan maak die teks van ‘n kragtige gebed van ‘n regverdige wat groot krag het nie sin nie. As God dan nie ‘n invloed kan uitoefen op so ’n kind se wil nie, wie kan.?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

In die brontaal (Grieks) van Jakobus 5:16b staan: ‘groot is die krag van gebed van ‘n regverdige wat uitgewerk word.’ Die 1983-vertaling vertaal: ‘die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.’ Dit word bewys deur verse 17-18 se verwysing na Elia se gebed dat dit nie moet reën nie, en vir drie jaar het die Here dit nie laat reën nie, en Elia het weer gebid en die Here het oorvloedige reën gegee. Deur die gebed van God se kind, sal God kragtig werk in die persoon vir wie gebid word. 

 

            Elia was ‘n gewone mens soos ons (die gelowiges vir wie Jakobus skryf). 1 Konings 17:1 beskryf hoe Elia, ‘n bywoner uit Gilead oorkant die Jordaan, vir Agab, die goddelose koning van Israel, in die hoofstad Samaria sê dat hy, wat Elia is, in diens van die God van Israel staan, en dat daar die volgende paar jaar geen reën of dou sal val nie, behalwe as hy so sê. Konings 18:1 sê dat na omtrent drie jaar, die woord van die Here tot Elia gekom en vir hom gesê het om weer na Agab toe te gaan en te sê: ‘dit sal weer reën.’ Daarop volg dan die hele gebeure op Karmelberg waar die Baälpriesters die hele dag lank tevergeefs gebid het vir vuur uit die hemel om hulle offer aan Baäl aan die brand te steek, en die Here laatmiddag vuur gestuur het op die gebed van Elia om sy offer te laat brand. Daarna het Elia sewe maal gebid, totdat ‘n wolkie so groot soos ‘n man se hand begin verskyn het van die see se kant af en vinnig groot donderwolke geword het wat laat reën het.

 

            As Jakobus praat van ‘n ‘regverdige,’ word daarmee bedoel iemand wie se verhouding tot God reggestel is deur geloof in Jesus Christus, die Seun van God, wat mens geword het om vir ons sondes te sterf, en van ons, wat aan Jesus verbind is deur geloof, kinders van God te maak (Romeine 8:12-17).

 

            Volgens Johannes16:7-12 stuur Jesus die Heilige Gees om die wêreld te weerlê/oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel (1983-vertaling verduidelik die Grieks soos volg: ‘bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het).  

 

Dit is nie so dat God nie ‘n invloed kan uitoefen op iemand se wil nie. Dit is juis die werk van die Heilige Gees om vir die sondaar oortuigend te bewys dat hy verkeerd is. Dit doen die Gees egter deur die woord van God, wat so ‘n persoon probeer oortuig deur die liefde van God vir die wêreld wat so groot is, dat Hy sy enigste Seun gegee het, om die sonde van die wêreld te sterf (Johannes 3:16; Romeine 8:3). Maar ons mense is die draers van die boodskap van God se liefde deur ons woorde en ons optrede. God wil deur ons werk om ander te oortuig, en Hy sal ons woorde en lewenswyse gebruik om ander na Hom toe terug te bring (vgl. Jesus se gebed in Johannes 17:20; en sy opdrag aan sy volgelinge in Matteus 28:18-20). 

 

            Jakobus 5:19,20 spel dit uit: ‘My broers, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand hom terugbring, weet dan dat hy wat ‘n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red en maak dat ‘n menigte sondes vergewe word.’

 

God gaan juis teen ‘n mens se wil in, en leer ons om sy wil te doen. Maar Hy gryp jou nie aan die nek en dwing jou nie om jou sonde te laat staan nie. Hy het juis die mens geskep om self te besluit. Maar God doen alles om ons te oortuig van sy wil. Uit liefde het Hy sy Seun gestuur, en die Heilige Gees gestuur om ons te oortuig totdat ons besluit om in Jesus te glo, en dan vir ons te lei in die wil van God, deur ons wil aan Hom en sy woord te onderwerp en soos Hy uit liefde te begin lewe (vgl. die vrug van die Gees in ons, Galasiërs 5:22; Romeine 8:9-17). God kan ook omstandighede gebruik om mense tot inkeer te bring, soos bv. die droogte wat Hy in Elia se tyd gestuur het. Maar ten spyte daarvan het Agab nie tot bekering gekom nie. Die grootste deel van Israel het egter in God geglo en die 400 priesters van Baäl uitgeroei, wat hulle verlei het tot afgodsdiens om hulle vrugbaarheid en reën van Baäl te verwag (1 Kon.18:18). 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan