Wysheid se CV

 “He who would seek revenge should dig a grave for two.” Joodse spreekwoord

 

Wysheid

In Spreuke 8 kry ons die CV van Vrou Wysheid. Kom ons vergelyk die dinge soos hulle is met wat sy kan aanbied.

 

  • Sy bied haar vaardighede aan almal aan. Kort die gemiddelde persoon wysheid?  Glo sommige Christene dat hulle nie wys kan wees nie, want hulle het nie die teologiese opleiding of spesiale gawes wat ander het nie? Ons wil graag in die Bybelse sin wys wees, maar ons voldoen nie aan God se vereistes nie?  Maar wysheid is oral en vir almal beskikbaar. Op die hoogtes langs die pad, by die kruispaaie, gaan sy staan, langs die stadspoorte, by die ingange … ek roep na alle mense insluitend dié wat ervaring kortkom en wat dwaas is – nie net vir ‘n paar uitverkorenes nie, maar vir almal. Hoe is dit moontlik? Dit gaan hier nie oor IK, talente of charisma nie, maar oor hoe om God tevrede te stel met jou lewe. Sy verwag ‘n gehoorsame hart en ‘n gewilligheid om afhanklik van God te wees.
  • Baie Christene voel ongemaklik met die waardes van ons samelewing – die klem op rykdom en besittings. Alles baie oppervlakkig. Wysheid sê dat sy dinge wat blywende waarde het bring: opregtheid (vs 6), waarheid (vs 7), regte bedoelings (vs 8), reg (vs 9) en meer as silwer, goud en kosbare edelstene (vs 10 – 11).
  • Wysheid nooi ons uit om na te dink oor die burgerlike en sosiale orde en te dink aan hoe dit kan wees. Ons almal weet van korrupsie wat hoogty vier. Vs 12 – 16 fokus op die plek van wysheid in die openbare lewe. Wysheid bring verstand, kennis en skranderheid en raak ontslae van haat, hoogmoed, hooghartigheid en slinkse woorde. Wie my het, het raad en behaal sukses, ek verleen insig, ek is die een wat die mag gee. Met my hulp regeer konings goed en laat maghebbers reg geskied; met my hulp heers die mense wat mag het, die leiers, elkeen wat reg regeer. Wysheid wil hê dat ons van ‘n ander sosiale en politieke orde moet droom.
  • Ons droom ook van ‘n samelewing waar reg en geregtigheid beloon word. In ons samelewing trek die onregverdige dikwels voordeel en kry mag wat dan teen ander gebruik word. Wysheid sê dat ‘n samelewing waarin die goeie beloon word moontlik is (vs 17 – 21). Die wyse wat in God se weë wandel word erken. Ek maak dié wat my liefhet, ryk.
  • Wysheid sê vir ons dat daar ‘n doel in die heelal is (vs 22 – 31). Ons sien dit daarin dat Wysheid reeds voor alle dinge daar was. Dit beteken God het ‘n doel in die heelal ingebou.

 

Wat wil ons hê? ‘n Lewe waar wysheid beskikbaar is vir almal wat God dien? ‘n Samelewing waarin waarde aan wysheid geheg word?  Waar korrupsie verby is en reg en geregtigheid heers?  Waar jy weet dat daar in elkeen se lewe ‘n doel ingebou is? As dit is wat jy wil hê, wat moet jy doen? Raak bekend met God se wysheid; aanvaar die onderrig van Jesus – met die hulp van die Heilige Gees. Dit is Jesus, die ware Wysheid van God, wat die waardes van die wêreld omkeer. Hy keer die prioriteite van die wêreld om; Hy maak alles nuut

 

 

 




Die ewige soeke na wysheid

If Scripture does not direct us in our inquiries after God, we immediately turn vain in our imaginations – Calvyn

 

Die ewige soeke na wysheid

Spreuke is ‘n interessante boek. Dit het baie praktiese raad oor lewe in die gemeenskap. (‘n Sagte antwoord laat woede bedaar; ‘n krenkende woord laat woede opvlam – 15:1). Daar word ook baie nagedink oor die vraag van wysheid en dwaasheid. (‘n Verstandige man is op soek na kennis; ‘n dwaas voed homself met dwaasheid – 15:14).

 

Ons kry ‘n duidelike wêreldsiening wat die beste in 1:7 opgesom word: Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag (1:7). Wat die skrywer sê, is dat alle kennis, alle soeke om te verstaan, alle regte denke, begin by die dien van die Here – by ons verhouding met Hom. Hierdie verhouding plaas die Here aan die toppunt van die piramiede. As ons kennis los van die Here soek, is daar ‘n gevaarlike risiko waarvoor ons te staan kom: ons maak die soeke vir onsself – ons persoonlike voordeel – en ons vergeet die eis van die Here van geregtigheid vir almal.

 

Soek ons wysheid los van God word ons dwase wat nie wysheid verstaan nie. As ons na wysheid soek, soek ons die sentrale betekenis en doel van die lewe. Om wysheid te verwerp, is die kern van dwaasheid. Dan weier ons om diep in die hart van dinge te kyk om so uit te vind wat die Here gedoen het toe Hy die wêreld gemaak het tot voordeel van al sy skepsels.

 

Die gevolgtrekking is duidelik: daar is geen ware kennis moontlik sonder die dien van die Here nie.

 

 




Die Wysheid in Spreuke 8

Die Wysheid in Spreuke 8 – Francois Malan

Andre vra: 

Wie is Wysheid waarvan Spreuke 8 praat, want Hy sê Hy was saam met die Here toe die aarde geskep is. Vers 22 – Die Here het my geskep. Dit kan dus nie God of Jesus wees nie, is dit dalk die Heilige Gees.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Spreuke 7 handel oor die verleidelike taal van die owerspeelster, wat ‘n beeld is van alle slegte vroue. Daarop volg hoofstuk 8, wat wysheid aan die woord stel as die predikster van haar waarde vir die mens. In 7:4 het die prediker reeds vir sy seun gesê hy moet wysheid sy suster maak en insig sy familie om hom weg te hou van die slegte vrou af. Soos 1:20-33 word wysheid hier ook geteken as ‘n persoon. Na die gedeeltes oor die wysheid in 1:20-33, 3:13-20, 4:8,9 word wysheid in hoofstuk 8 aan die kant van God self gestel, voor die skepping v22, in gesprek met die Skepper v30, en ‘deur Hom geskep/voortgebring as die begin van sy pad, die eerste van sy werke van toe af’ v22. Die heelal wat God geskep het getuig van sy wysheid waarmee dit gedoen is, en God se plan waarvolgens Hy geskep het word digterlik as ‘n persoon voorgestel.

In hoofstuk 8 gaan dit om digterlike personifikasie van die wysheid van God waarmee Hy die wêreld geskep het, soos in hoofstukke 1,3 en 4, as predikster tot die mense en as troetelkind van die Here. Omdat sy so hoog verhewe is, moet die mense na haar luister. Die bedoeling van die hoofstuk is om die begeerlikheid van die wysheid teenoor die begeerlikheid van die slegte vrou op ons harte te bind, soos ook in die hele eerste afdeling van Spreuke (hoofstukke 1-9). In 8:30 word wysheid as ‘n ou dame voorgestel, ouer as die aarde en die hemel. God onderhou ook sy skepping met wysheid en daarvoor gebruik Hy mense, soos die Spreuke digter self, om die mense aan te spreek.

Die wysheid staan langs die strate, by kruispaaie, by die stadspoorte (8:2). So was die profete die stem van Goddelike wysheid in die openbaar (vgl. Jeremia 7 en 26). Aan koning Salomo is bv. die gawe van Goddelike wysheid gegee om reg te spreek (1 Kon.3:28). Koning Josafat leef soos die Here dit wil (vgl. Spr.1:7), en hy stuur sy beste amptenare uit om in die stede onderrig te gee in die wet van die Here (2 Kron.17:6-9). Later tree die Seun van God self op met die wysheid van God (Mat.13:54, Hebr.1:1; Joh. 18:20; Mt.11:19; Lk.7:35) en Hy is self die weg en die waarheid en die lewe (Joh.14:6).

Jesus kom ons leer van die Heilige Gees (Joh.14:26; 16:7). Die Ou Testament weet van die Gees van die Here wat oor mense kom en hulle vaardig maak, konings, priesters, profete, ambagsmanne, landbouers, ens. Maar nou weet ons van Hom as God wat in ons woon (Rom.8:9). Nou weet ons ook dat God die hemel en die aarde deur sy Woord, Jesus, geskep het (Gen.1:3; Joh.1:1-3; 1 Kor.8:6), dat God ons Vader is, soos Jesus ons leer bid het (Mat.6:9; 11:27); en dat die Heilige Gees wat aan ons die lewe gee, reeds by die skepping oor die waters gesweef het om lewe aan die skepping gegee het (Gen.1:2; 8:2).

Die Vader en die Seun en die Heilige Gees tree met wysheid op, met die skepping, met die onderhouding van die wêreld, en met die herskepping van ons as sy kinders. Die wysheid waarmee hulle dit doen, word in Spreuke 8 besing in die lofsang op die wysheid waarvolgens ons moet lewe. Dit verkry ons deur God te leer ken uit sy woord (ook uit Spreuke), onder leiding van die Heilige Gees in ons, wat ons daagliks lei en onderskraag.

 

Skrywer: Prof Francois Malan