Die Rooms-Katolieke Kerk en Zion Christian Church

Die Rooms-Katolieke Kerk en Zion Christian Church – Francois Malan

Louis vra;

 

Sal mense wat aan die Katolieke Kerk en Zion Christian Church(ZCC) behoort, hemel toe gaan?

 

Antwoord

 

Prof. Francois Malan antwoord

 

Dieselfde vraag kan gevra word oor mense wat aan enige kerk behoort. Die maatstaf, oor wie hemel toe gaan, is of jy glo in die Here Jesus Christus as God wat mens geword het om vir ons sondes aan die kruis te sterwe, en dat ons Hom aanvaar as die Here wat die seggenskap het oor ons lewe.

            Joh 1:12: aan almal wat Hom aanvaar het, hulle wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Joh 3:16: so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Joh 3:36: wie in die Seun glo, het die ewige lewe, maar wie aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie; inteendeel, die toorn van God bly op hom.

Rom 10:9,11-13: as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word….Die Skrif sê tog: ‘Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.’ Dit maak inderdaad geen verskil of jy ‘n Jood of ‘n Griek (alle nie-Jode) is nie. Ons het almal dieselfde Here, en Hy deel sy rykdom uit aan almal wat Hom aanroep. Want ‘elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word’ (Joël 2:32).    

 

Die Roomse Katolieke Kerk bely ook die twaalf artikels van die apostoliese geloofsbelydenis in God die Vader as die Skepper van alles; en in Jesus Christus, sy enigste Seun en ons Here wat mens geword het, gesterf het, opgestaan het, na die hemel opgevaar het, sit aan die regterhand van God die Vader, wat weer kom as die Regter oor lewendes en dooies; en in die Heilige Gees met die geloof in die vergifnis van sonde deur die kerk en sy sakramente wat ons aan Christus verbind wat vir ons sonde gesterf het en opgewek is vir ons regverdiging, sodat ons ook sal lewe in die nuutheid van die lewe.

            Hoewel die Protestantse kerke met hulle verskil oor die rol van die kerk en die heiliges en die sakramente, glo ons saam in die Here Jesus Christus, die Seun van God wat mens geword het vir die verlossing van ons sonde om van ons kinders van God te maak wat aan Hom toegewy lewe.

            Daarby het pous Johannes 23 reeds in 1959 die kerk baie meer oop gemaak vir gesprek met ander kerke en bestudering van die Bybel, en is die huidige pous Franciscus ‘n baie nederige man wat die kerk begin leer om in nederigheid te dien.

 

Daar is twee Zion Christian Churches, die een wat nog die naam van die stigter, Engenas (Ignasius) dra (kenteken ‘n voëltjie), en die groter een wat tans deur biskop Barnabas Lekganyane gelei word (kenteken ‘n ster).

            Die biskop speel ‘n groot rol in die kerk wat hulle veral toelê op genesing en die seën van die kerk vir jou daaglikse lewe. Maar hulle lees uit die Bybel by hulle byeenkomste, en die liedere wat hulle sing en dans is egte Gereformeerde liedere wat deur die Gereformeerde kerke in Lesotho gesing word.

 

Die oordeel oor wie in die hemel toegelaat sal word of nie, oor elkeen se geloof in Jesus en hoe die geloof uitgelewe is, sal deur Jesus bepaal word met sy wederkoms as Regter. Vergelyk sy gelykenisse in Matteus 25 oor die tien meisies (25:1-13); van die muntstukke (25:14-30) en veral oor die laaste oordeel met die skeiding van die skape en die bokke (25:31-46).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Onafhanklike Kerke in Afrika

Die Groot Geloofswoordeboek: Onafhanklike Kerke in Afrika

Onafhanklike kerke in Afrika

  • Separatistekerke
  • Sionistekerke
  • Zion Christian Church

Die onafhanklike kerke in Afrika is ‘n groot groep kerke onder swart mense wat ook soms separatistekerke of inheemse kerke ge­noem word. In Engels word die term African Initiated Churches dees­­­dae verkies omdat hierdie kerke deur swart Afrikane gestig is en gelei word, en nie onder leiding van wit, Westerse sen­ding­ini­sia­tiewe ontstaan het nie. Daar is honderde sulke kerke, waarvan die bekendste die ZCC is, die Zion Christian Church met die ster-em­­bleem, waarvan Lekgenyani die leier is. Meer as 10% van die bevolking van Suid-Afrika behoort aan dié kerk. Hulle het jaarliks ty­dens die Paasnaweek hulle groot byeenkoms buite Po­lokwane in Lim­popoprovinsie waar ‘n paar miljoen mense byme­kaarkom.

 

Byna die helfte van alle swart mense in Suid-Afrika behoort aan hierdie onafhanklike kerke. Hulle word onderskei van die so­ge­naamde sendingkerke (mission churches) wat deur wit sen­ding­inisiatiewe tot stand gekom het.

 

Die onafhanklike kerke is die kerke wat die vinnigste groei. Hulle trek veral lidmate van die sendingkerke. Hulle slaag daar­in om te reageer op die basiese nood en behoeftes van ver­al ongeskoolde arbeiders en hul gesinne. Die boodskap en praktyk van genesing is in die meeste gevalle die kern van hulle bedie­ning, maar hulle gee ook baie aandag aan die vrese van mense vir bonatuurlike magte. Dit plaas *eksorsisme ook hoog op hulle agenda.

 

Hulle leiers word gewoonlik biskoppe genoem en het meestal geen teologiese opleiding gehad nie. Daar is baie huiwering on­der die historiese kerke oor die suiwerheid van hulle leer, maar dit lei min twyfel dat hulle tog verband hou met die ba­sie­se oortuigings van Christene, soos verlossing en genesing. Daar is bepaalde kerke waarin die biskop dreig om die plek van Chris­tus in te neem, maar in ander bly Hy die sentrale figuur van verlossing en genesing. Hulle slaag meestal daarin om by die tradisies van Afrika aan te sluit, al sou hierdie tradisies miskien soms die evangelie bedreig.

Skrywer: Prof Adrio König