Tematiese studie van die Bybel

 

Either we trust God by affirming all his revealed wisdom, or we play God by deciding what he got wrong. – John Piper

 

Tematiese studie van die Bybel

Hierdie is ‘n verdere blog van Mel Lawrenz oor hoe om die Bybel te lees.

Soms lees ons die Bybel soos ons deur die Kruger Wildtuin ry –  ons ontdek soos ons ry. Ander kere soek ons vir spesifieke temas of onderwerpe. Hoe doen ons so ‘n tematiese studie? Hoe kry ons die sleutelgedeeltes wat ‘n spesifieke tema dek?

 

Lawrenz beskryf vyf stappe. Hy gebruik die doop as ‘n voorbeeld.

  1. Kry die gedeeltes

Maak ‘n verwysing na al die Bybelse verwysing na ons onderwerp. Ons kan kyk na die woord doop in ‘n konkordansie of  in ‘n digitale soekfunksie (soos Biblegateway.com). Ons moet ook na woorde verwant aan doop kyk. Nou maak ons ‘n lys van al die gedeeltes. Skakel die gedeeltes wat nie met die kernbetekenis van doop verband hou nie, uit.

 

  1. Verstaan die onderwerp/tema in konteks

As jy in die Wildtuin kom en jy kry waarna jy soek, kyk jy nie vinnig en ry verder nie. Jy bestudeer dit. Dit is nie genoeg om die gedeeltes te kry nie – jy moet hulle bestudeer en hulle betekenis in konteks verstaan. Jy moet dus die verse om die vers wat oor doop praat bestudeer – waarskynlik die hele hoofstuk. Maak dan ‘n voorlopige gevolgtrekking oor die betekenis van die konsep in daardie besondere  gedeelte. Maak nota’s. Gaan na ‘n kommentaar en lees wat dit oor daardie gedeelte sê. Dit doen jy vir elke gedeelte.

 

  1. Vergelyk die verskillende gedeeltes

Jy het nou al die gedeeltes en jy verstaan die betekeenis in die konteks. Nou moet jy die verskillende gedeeltes vergelyk. Nou sien ons gedeeltes waar doop verwys na water en gedeeltes waar dit  as ‘n beeld gebruik word.

 

  1. Sintetiseer die kernkonsepte

Ons moet nou die idees bymekaar sit. Hier moet ons nou diep dink en bid.. Moenie haastig wees nie. Soek vir verbindings tussen die verskillende gedeeltes. Ons voeg nou gedeeltes bymekaar volgens hulle tipe. So beskryf Handelinge wat in die vroeë Christelike kerk gebeur het. Paulus vertel ons van die teologie van doop. Sintese beteken ons vergelyk gedeeltes in soortgelyke kontekste. Maak nota’s oor die belangrikste subtemas. Ons let op idees wat herhaal word; ons let op idees wat net een maal vermeld word. Hierdie stap moet ons entoesiasties maak, want ons sien dinge wat ons nie vantevore gesien het nie.

 

  1. Maak gevolgtrekkings

As jy met ‘n tematiese studie begin het jy gewoonlik ‘n vraag in gedagte. Dit is dalk iets soos “wat beteken die doop?” Jou gevolgtrekkings is die antwoord op jou oorspronklike vraag. Op hierdie stadium kan jy ook na ‘n woordeboek of ensiklopedie van die Bybel kyk. Jy mag dalk net verdere aspekte leer of jy mag uitvind jy het nie die onderwerp verstaan nie. Dit is deel van die proses.

 

Om duidelikheid oor die groot idees van die Skrif te kry, is ‘n bevredigende ondervinding wat jou geloof bou. Ons vind dikwels dat as ons die antwoord op een vraag kry nuwe vrae na vore kom. Geen probleem nie. Die ontdekking van die waarhede in die Bybel is ‘n lewenslange proses.