Ter helle neergedaal

Ter helle neergedaal – Jan van der Watt

Isabell vra:

Sedert my Sondagskooldae hoor ek dat Jesus, nadat Hy dood is, “ter helle neergedaal” het, met ander woorde, as ek dit reg verstaan, 3 dae in die hel deurgebring het sodat ek dit nie hoef deur te maak nie. Maar, Sy laaste woorde aan die kruis was: Vader in U hande gee Ek My Gees oor”. Wat ek nou verstaan is dat Satan nooit beheer oor Sy Gees gehad het nie. Wat moet ek van alles verstaan?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die uitdrukking ‘ter helle neergedaal’ kom natuurlik nie in die Bybel voor nie. Dit is woorde wat eers in die middeleeue in die Apostoliese geloofsbelydenis ingevoeg is. Sedertdien het dit woorde baie probleme veroorsaak, want dit lyk of Jesus in die hel was. Die hel word natuurlik geassosieer met die sonde en in die algemene spreektaal sê ons dat ons hel toe gaan as ons sondig is. Nou maar wat het Jesus daar gaan doen, as ons natuurlik reg is oor die ‘hel’.

Verskillende kerke het al probeer om die saak anders te stel, bv. die NG kerk het al die woorde op ʼn stadium verander na ‘neergedaal na die hel’ terwyl die Gereformeerde kerk nou sê dat Jesus die helse pyn gely het. Dit wys dat die kerke ook ongemaklik voel oor die woorde, aangesien dit iets kommunikeer wat nie regtig so is nie.

ʼn Paar dinge is hier op die spel:

  • Die gedeelte in die Nuwe Testament waarop die uitspraak dat Jesus ter helle neergedaal het, teruggaan, is 1 Petrus 3:18-19 – 18Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. 19En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig.Die gedeelte sê dat Jesus as mens (liggaamlik) wel dood was, maar dat Hy wel geestelik lewend was en na die geeste in die gevangenis (ʼn tipiese beeld vir die doderyk waarheen mense gaan as hulle dood is) is. (Johannes 10:16-17 en indirek Johannes 11:25-26 sê ook dat Jesus wel liggaamlik dood was, maar dat Hy tog nog lewend was in die tyd tussen die kruis en die opstanding). Dit blyk dus hier dat Jesus tussen sy kruis en opstanding na die doderyk is om sy oorwinning aan te kondig. Die idee dat Hy in daardie tyd in die mag van die Satan sou wees, is dus nie reg nie. Hy was nooit in die mag van die Satan nie. Hy het juis sy oorwinning oor die Satan gaan aankondig.
  • Uit hierdie gedeelte is dit dus duidelik dat Jesus nie tussen sy dood en opstanding geteken word as gepynigde, lydende nie, maar reeds as oorwinnaar. Dit is juis die ongemaklikheid met die ‘ter helle neergedaal’ as ʼn mens dit sien as plek waar Hy lydend in die mag van die Satan sou wees. Dit staan nêrens in die Bybel nie.
  • Ons kan dus hieruit aflei dat die meeste wat ʼn mens in die ‘ter helle’ vanuit ʼn Bybelse hoek moet inlees, is dat Jesus ook na die doderyk gegaan het toe sy liggaam aan die kruis gesterf het. Daar was Hy tot Hy weer opgestaan het. God is natuurlik alomteenwoordig en dus selfs in die doderyk was God by Jesus.
  • Hel’ in die Nuwe Testament beteken meestal doodgewoon ‘doderyk’ (daar waar die dooies na hulle dood is) en nie die plek van straf nie (dit ook in sommige kontekste). Die Bybel gebruik ook verskillende woorde vir die doderyk, soos gehenna, sheo’l, hades, ens. wat elkeen sy eie betekenis het. ‘Hel’ in die Nuwe Testament beteken dus nie outomaties die plek waar jy braai vir jou sonde nie, om dit so uit te druk. Dit beteken in baie gevalle bloot die plek waar die dooies is.
  • Nou kom ons weer na die belydenis terug. Die term ‘ter helle neergedaal’ is, soos ons gesien het, baie dubbelsinnig en die kerke worstel maar oor die presiese betekenis. Aangesien dit ʼn belydenis van die kerk is (waarmee hulle iets wil sê oor wat hulle glo) moet die kerk dus self inhoud gee aan wat hulle bedoel. Ons het gesien dat die NG Kerk die woorde verander het om klem te lê op die feit dat Jesus in die drie dae ‘hel’ toe is. ‘Die Gereformeerde Kerk interpreteer dit as die lyding van Jesus. Dit gaan dus nie daaroor dat Jesus in die hel was nie, maar dat hy pyn gely het wat ʼn mens aan helse pyn laat dink. So word die woorde maar deur verskillende kerke (en verskillende mense) anders ingevul. Persoonlik verkies ek om ‘ter helle neergedaal’ vanuit ʼn Bybelse hoek te lees as ‘in die doderyk neergedaal’ te lees. Dit mag ook baie dinge beteken, maar ten minste skep dit nie die indruk asof Jesus in die hel geland het waar Hy in die mag van die duiwel as sondaar hanteer is nie.

Outeur: Prof Jan van der Watt