Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (3)

Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (3) – Adrio König

Ons word deur die doop met Christus verenig (Gal 3:26) en omdat Hy dié Nakomeling van Abraham is (Gal 3:16), word ons dan ook, saam met Hom, nakomelinge van Abraham. Die doop is dus wesenlik deel van die verbond met Abraham.

Maar nou het ons ‘n belangrike beginsel aanvaar. Ons het dit nie besef nie omdat ons formulerings sleg was.

  • Dis nie die doop wat ons in die Abrahamverbond inlyf nie.
  • Dis God wat ons deur die doop in die Abrahamverbond inlyf.
  • In die lig hiervan is dit nie vreemd dat al die betekenisse van die doop verband hou met God se werk in ons, en nie met ons werk nie:

    • God verenig ons deur die doop met Christus sodat ons deel kry aan sy kruisiging, sterwe, begrafnis en opwekking (Rom 6). Ons kan dit nie self doen nie.
    • God gee ons deur die doop die Heilige Gees en die weergeboorte (Tit 3:5 – ongelukkig vreemd veetaal in die 1983-vertaling). Ons kan nie self nie.
    • God neem ons deur die doop op in die liggaam van Christus (1 Kor 12:13 – net so vreemd vertaal in 1983. Lees die 1953-vertaling en NLV). Ons kan nie self nie.

    Die doop kan dus nie ‘n geloofsdoop of ‘n belydenisdoop genoem word nie, omdat dit nie my geloof of my belydenis is wat die betekenis aan die doop gee nie, maar God self. Natuurlik moet mense wat van buite die geloofsgemeenskap kom, eers self glo en hulle geloof bely voor hulle gedoop word. Net so moes ook Abraham eers self glo voor hy besny is. Maar Isak wat in die verbond gebore is omdat Abraham in God geglo het, is eers besny en moes agterna self glo.

    My geloof en my belydenis is my onontbeerlike antwoord op die werk van God in my doop.

    Maar indien God al hierdie gawes in my doop vir my gee, hoe is dit dan dat die doop my nie red nie?

    Om presies dieselfde rede waarom die kruis my nie red nie.

     

    Prof Adrio König