Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (4)

Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (4) – Adrio König

2.3.2 Jesus het self die Sabbat gehou

Ons het alreeds daarna gekyk. Jesus het inderdaad self die Sabbat gehou. Hierdie Christene is nou oortuig dat ons moet aanvaar sy volgelinge het ná sy opwekking daarmee voortgegaan.

Dit gaan hier oor twee sake: Oor Jesus, en dan oor die eerste Christene.

Moet ons Hom dan nie hierin navolg nie? Hy is tog ons voorbeeld.

As ons na die lewe van Jesus kyk, is dit gou duidelik dat Jesus ook baie ander dinge gedoen het wat ons as Christene nie meer doen nie.

  • Hy is besny (Luk 2:21)
  • Hy is in die tempel aan die Here gewy (Luk 2:21, 22).
  • Hy het gereeld die sinagoge en die tempel besoek.
  • Hy het die feeste van die Ou Testament gevier.
  • Hy het onreines wat Hy genees, beveel om hulle by die tempel aan die priesters te gaan wys (Luk 17:14).
  • Hy het aanvaar sy volgelinge neem hulle offers in die tempel na die altaar toe (Matt 5:23, 24).

Daar is regtig baie min Christene wat Jesus nog in al hierdie gebruike navolg! Kies ons nou eenvoudig watter, en los die ander? Kom ons kyk mooi hierna.

Jesus was nie ‘n Christen nie. Hy was ‘n Jood. Sy volgelinge is later eers Christene genoem. Selfs die dissipels en die eerste bekeerlinge was nog Jode. Die verskil met die ander Jode was net dat hulle geglo het die Messias het al gekom.

Natuurlik is Jesus ons voorbeeld (1 Pet 2:21). Natuurlik moet ons Hom navolg. Maar waarin? In sy besnydenis? In sy sinagoge-besoeke? In sy Joodse kleredrag? In die feit dat Hy nie ‘n vaste werk of ‘n vaste adres of vaste eiendom gehad het nie?

Waarin is ons geroepe om Jesus na te volg? In sy kruisdra, in sy diens aan mense in nood, in sy nederigheid, in sy reinheid, en noem maar op. Dit beteken tog nie in die formele dinge nie, maar in die geestelike dinge.

Volgende keer kyk ons na Matteus 20:24 waar Jesus sê dat sy volgelinge moet bid dat hulle nie in die winter of op die Sabbat moet vlug nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König