Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (9)

Terug na die Ou Testament: Die Sabbat (9) – Adrio König

2.6 En Sondag?

Nêrens in die Nuwe Testament word ons beveel om die eerste dag van die week, Sondag, te vier nie. En nêrens in die Nuwe Testament word Sondag met die vierde gebod in verband gebring nie. Ons Sondagviering is iets anders. Die vierde gebod het nie net verskuif van Saterdag na Sondag nie. Dit het verruim van Saterdag na elke dag. Sondag het bygekom as iets nuuts.

Baie van ons voorouers het dit nie só verstaan nie. Hulle was oortuig dat die Sabbat van die Ou Testament oorgegaan het na die Sondag van die Nuwe Testament. Alles sou net dieselfde gebly het, al die bepalings oor die Sabbat wat ons in die Ou Testament kry, sou nog van krag gewees het, maar dit sou alles net oorgeskuif het na die eerste dag van die week, Sondag.

Vir eeue lank het baie Christene nog probeer om die Sabbatswette van die Ou Testament op Sondag te hou. Hulle het Saterdag kos gemaak wat Sondag geëet is, hulle het nie op Sondag gekoop nie, nie (onnodig) gery nie, geen sport beoefen of koerante gelees nie, nie geswem as hulle by die see vakansie hou nie, en nog duisend ander dinge nie gedoen nie.

Sondag het skynbaar spontaan en onbepland gegroei. Kyk na die eerste spore van iets besonders op die eerste dag van die week.

  • Dat Jesus op die eerste dag van die week opgewek word.
  • Dat Jesus dan die aand aan sy dissipels verskyn.
  • Dat Hy dan juis agt dae daarna weer aan hulle verskyn (Joh 20:19, 26).
  • En dat die Gees ook op hierdie dag uitgestort is.
  • Vir die gemeente in Korinte skryf Paulus om elke Sondag iets vir die armes opsy te sit (1 Kor 16:2).
  • Hy spreek die gelowiges in Troas op die eerste dag van die week toe (Hand 20:7-14).
  • Later begin die Christene hierdie dag “die dag van die Here” noem wat die besondere betekenis beklemtoon wat hierdie dag gaandeweg vir hulle gekry het. Johannes is op “die dag van die Here” deur die Gees meegevoer om die wonderlike gesigte te sien (Openb 1:10).

Kom ons kyk in meer besonderhede na ‘n paar van hierdie sake.

Dit hoef nie op sigself so opvallend te wees nie dat Jesus die aand van sy opstanding aan sy dissipels verskyn nie, maar Johannes se besondere beklemtoning dat dit juis die eerste dag was, is opvallend. Johannes skryf: “Op die aand van daardie dag” wat sy opstandingsdag is, en dan voeg hy nog by: “die eerste dag van die week” (20:19).

En dan die byeenkoms die Sondag in Troas. Paulus is so haastig om betyds vir die pinksterfees in Jerusalem te wees (20:16) dat Éfese se ouderlinge spesiaal kus toe moet kom om hom te ontmoet. Hy het nie tyd om in die binneland by Efese na hulle te reis nie. Maar intussen wag hy sewe dae in Troas om die gemeente die eerste dag van die week te ontmoet! (20:6-7) Waarom? Seker omdat hulle net op Sondae bymekaar gekom het.

 

Prof Adrio König