Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (5)

Terug na die Ou Testament: Die Wederkoms Nou? (5) – Adrio König

8.3.4 Israel

Intussen bly Israel vir sommige gelowiges ‘n baie belangrike saak. En in ons tyd kom dit weer sterk na vore. Mense is oortuig dat bepaalde dinge wat nou in Israel gebeur die vervulling van profesieë is.

  • Matteus 23 het die skerpste uitsprake van Jesus in die hele Nuwe Testament. Dit is oordeel op oordeel op oordeel. En dan volg die laaste, vernietigende oordeel: Jerusalem sal verwoes word. Dit beteken eintlik dat God se besondere verhouding met Israel verbreek word. Dit het Jesus al vroeër aangekondig (Matt 21:43).

    Maar dan hou Jesus nie hier op nie. Dan nooi Hy hulle uit om tot bekering te kom. Hy gebruik dieselfde woorde wat die juigende skare kort tevore by sy intog gebruik het: “Loof Hom wat in die Naam van die Here kom” (21:9). Hierdie volksleiers moet soos die skare word: Juigend oor Jesus. Vers 39 beteken dus skynbaar iets soos: Julle sal My net kan sien as julle tot bekering kom. Of: Indien julle tot bekering kom, sal julle My sien.

  • Wat het ons tot hiertoe oor die toekoms van Israel gekry?

    • Ons sal nie klaar kry om die evangelie aan Israel te verkondig voor Jesus kom nie.
    • Jesus se volgelinge sal iewers in die toekoms oor Israel regeer.
    • Die Israeliete wat tot bekering kom, sal die Here Jesus sien en Hom prys.
    • Jerusalem gaan verwoes word, en skynbaar deur heidene vertrap word tot Jesus kom.
    • Die oordeel van God het Israel begin tref.

    Wat het ons gekry? Israel wat hulle moet bekeer, en die oordeel van die Here is oor hulle.

    Sal die Here Jesus nie kom wanneer die vyeboom blare kry nie? Is die “vyeboom” nie Israel nie, en is “blare kry” nie Israel wat teruggaan na die staat van Israel nie?

    Nee. Ons kry dieselfde woorde van Jesus in Lukas: “Let op die vyeboom en al die ander bome. Sodra julle sien dat hulle begin uitloop , weet julle vanself dat die somer naby is” (Luk 21:29ev).

    As ‘n vyeboom iewers in die Ou Testament ‘n simbool van Israel is, beteken dit nie dit is elke keer so ‘n simbool nie. Hier is dit nie. Dis ‘n gewone vergelyking: Wanneer bome blare kry, weet ons die somer is naby. Net so weet ons die koms van Jesus is naby wanneer ons die tekens sien waarna Hy verwys het.

    Wat bly oor in verband met Israel se toekoms? Natuurlik Romeine 11. Dit is ongetwyfeld die belangrikste en insiggewendste deel oor hulle toekoms in die Nuwe Testament.

     

    Prof Adrio König