Terug na die Ou Testament: Vorms van terugkeer na die Ou Testament: Galasiërs en Hebreërs (4)

Terug na die Ou Testament: Vorms van terugkeer na die Ou Testament: Galasiërs en Hebreërs (4) Adrio König

4.2.4 Hebreërs 11

Kom ons kyk nou na hierdie merkwaardige hoofstuk. Ons vraag is of die Hebreërbrief die Ou Testament verwaarloos. Hebreërs 11 is seker een van die bekendste hoofstukke in die Bybel: die geloofshelde. Die tema van die hoofstuk is die geloof van die belangrike figure in die Ou Testament. En die een is positiewer as die ander. En almal is uit die Ou Testament!

Maar kom ons kyk na drie dinge:

  • die plek waar hierdie hoofstuk staan,
  • die begin van die hoofstuk,
  • en die woorde direk ná die hoofstuk (hoofstuk 12 se eerste woorde).

 

Plek  Hierdie hoofstuk staan direk aan die einde van die middeldeel van Hebreërs (hoofstukke 7-10) wat eintlik die hoofdeel in hierdie Brief is en waarin die negatiwiteit oor die Ou Testament sy hoogtepunt bereik. Maar hierdie hoofstuk is nou skielik merkwaardig positief oor die Ou Testament. Dit vorm dus ’n skerp kontras met die hoofdeel van die brief.

 

Het die skrywer dit so beplan? Wou hy die lesers oortuig sy negatiwiteit oor die Ou Testament is nie ’n beginsel nie, en dit raak glad nie die hele Ou Testament nie, maar net bepaalde sake in die Ou Testament? Wou hy die moontlikheid van misverstand uit die weg ruim deur, ná die negatiwiteit, te beklemtoon watter wonderlike positiewe betekenis die Ou Testament wel het?

 

Begin  Dan die begin van die hoofstuk (11:1). Dit begin met ’n “definisie” van geloof: “Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

 

Die punt wat die skrywer hier maak, is dat ons nog nie die dinge sien en beleef waarop ons hoop nie. Paulus skryf iewers: “Want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie” (2 Kor 5:7). Waarom skryf Hebreërs juis hier dieselfde gedagte neer, dat ons nog nie alles sien wat ons glo nie? Is dit nie dalk omdat die lesers diep bekommerd is omdat hulle nou ly juis vandat hulle Jesus as Messias aanvaar het nie? Wil hy nie vir hulle sê dat ons nog net uitsien na (hoop op) die heerlikheid wat kom, dat ons dit nog nie kan sien en beleef nie, en dat hulle swaarkry hulle dus nie moet ontstel nie? Wil hy sê dat vervolging vir Christene volkome “natuurlik” is, dat alle volgelinge van Jesus vir hulle geloof ly, en dat die heerlikheid eers in die toekoms lê? “Geloof is om oortuig te wees van die dinge wat ons nog nie sien nie.” Nou sien hulle nog net lyding. Maar dit sal verander.

 

Trouens hy beklemtoon dit sommer gou weer in hierdie hoofstuk. Wanneer hy oor Henog se geloof praat, beklemtoon hy dat ons nie God se wil kan doen as ons nie glo nie (11:6). Dit gaan dus glad nie oor wat ons beleef nie, maar oor wat ons glo. Daarom moet hulle nie bekommerd wees oor wat hulle nou beleef nie, oor hulle huidige swaarkry nie. Dis eintlik normaal. Die res van die Nuwe Testament is dan ook duidelik hieroor (Hand 14:22; 2 Tim 3:12). Miskien wou hy ’n soort “prosperity gospel” by hulle beveg.

 

Maar dit alles beteken dat die onderwerp én die plek van hoofstuk 11 baie netjies beplan is.

 

Einde  Derdens is die eerste verse ná hoofstuk 11 ook belangrik (12:1-3). Miskien het ons hier die hoogtepunt van die hele Brief. Kyk na die einde van hoofstuk 11: Die gelowiges van die Ou Testament word geprys oor hulle geloof, al het hulle nie verkry waarop hulle gehoop het  nie, en al het hulle vreeslik gely (11:39, 11:32ev). Dis mos nou presies die posisie van die lesers.

 

Maar waarom het hulle nie verkry waarop hulle gehoop het nie? “Omdat God vir ons iets beters beoog het, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie” (Heb 11:40). Maar hier sluit hy dus, nes Paulus en Petrus, volkome positief aan by die Ou Testament. Die Ou Testament is “open ended” want hulle het vir ons gewag.

 

Wat moes dan met ons gebeur? Wat het nog kortgekom in die Ou Testament? Waarom kon hulle nie, sonder ons, die voleinding bereik nie?

 

Omdat Christus nog nie gekom het nie. Hy voltooi alles.

 

Wat bedoel die skrywer? Ons het, net soos die gelowiges in die Ou Testament, ’n wedloop wat voor ons lê. In plaas daarvan om nou te huiwer, “geestelik moeg te word en uit te sak” (12:3), moet die lesers met volharding die wedloop hardloop, “die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof” (12:2).

 

Wat probeer hy sê? Die hele Ou Testament het op Jesus gewag. Julle het nou by Hom uitgekom. Hou vas aan Hom. Hy is alles. Julle het die logiese eindpunt van die Ou Testament bereik.

 

Verre daarvandaan dat die Hebreërskrywer negatief is teenoor die Ou Testament, is hy inteendeel volkome positief. Hy is net negatief teenoor dié aspekte waarheen sy lesers wou terugkeer omdat dit ten koste van Christus sou wees, dié aspekte van die Ou Testament wat deur Christus vervul is én só ver oortref is dat om daarheen terug te keer, sou beteken om Christus te verag, sy bloed te minag, en sy Gees te beledig (10:29). 

 

Skrywer:  Prof Adrio König