Terug na die Ou Testament: Vorms van terugkeer na die Ou Testament: Galasiërs en Hebreërs (5)

Terug na die Ou Testament: Vorms van terugkeer na die Ou Testament: Galasiërs en Hebreërs (5) – Adrio König

4.3 Terugkeer?

  • Die een groep wou net hulle geloof verryk. Hulle wou by Christus ook die wet, die Sabbat en die feeste byvoeg.
  • Die ander groep het oorweeg om Christus heeltemal te los en terug te gaan na die godsdiens van die Ou Testament.
  • Een van die ontstellende insigte wat ons gekry het, is dat albei ewe gevaarlik is. Selfs net dit wat op die oog af so onskuldig gelyk het, om net ‘n paar dinge by Christus by te voeg, sou volgens Paulus beteken dat Christus vir hulle verder geen betekenis sou hê nie, dat hulle die band met Hom sou verbreek, en die genade van God verbeur (Gal 5:2, 4).

    In beide Galasiërs en Hebreërs word volkome negatief gekyk na enigiets in die Ou Testament wat met Christus kompeteer en selfs net iets by Hom wil byvoeg.

    Natuurlik is daar dinge en persone in die Ou Testament wat volkome in harmonie met Hom voortgaan. Ons is almal kinders van Abraham, ons dien dieselfde God as hy, ons word op die mak olyfboom geënt, dit is op die ware Godsvolk van die Ou Testament, ons dien die Messias van die Ou Testament, en baie, baie ander persone en sake.

    Presies waar pas die huidige Christene in wat wil terug na sekere gebruike van die Ou Testament? ‘n Mens kry nie die indruk dat hulle dit ten koste vas Christus wil doen soos die Joodse gelowiges in Hebreërs nie. Wil hulle net hulle geloof “verryk” soos die Galasiërs? Is dit nie net so gevaarlik as wat dit destyds was nie?

     

    Prof Adrio König