Tessalonika

Tessalonika – Coen Slabber

Hoe het die stede gelyk wat Paulus besoek het? In hierdie kort reeks gaan ons kyk na enkele van hierdie stede. Die briewe aan die Tessalonisense was van Paulus se vroegste geskrifte. Ons begin dus by Tessalonika.

Tessalonika is ongeveer 160 km wes van Filippi geleë. Dit is ʼn baie ou stad – in Paulus se tyd was dit reeds meer as drie eeue oud. In 168 vC kom die Romeine daar aan.  Dit word in 146 vC die hoofstad van Masedonië. Tessalonika was langs die bekende hoofweg die Via Egnatia – die groot handelsroete wat Rome met die Ooste verbind het – geleë. Hierdie  was ʼn belangrike stad vir oos-wes en noord-suid verkeer. Omdat dit so ʼn belangrike handelstad was, kan ons aanvaar daar was ʼn betekenisvolle aantal Jode in die stad – meestal handelaars.  In Tessalonika het die Ooste en die Weste bymekaar gekom. As die Christelike godsdiens daar ʼn vastrapplek sou kry kon die na die Ooste en die Weste versprei.

Tessalonika was die naam van Aleksander die grote se half-suster. Sy was getroud met Cassander wat in 315 vC die stad herbou het. Dit was ʼn “vry stad” – dit beteken daar was nooit enige Romeinse troepe in die stad gestasioneer nie. Die stad het baie van sy ou Griekse identiteit behou – selfs na die oorname deur die Romeine. Die stad het in wese ʼn Griekse grondwet gehad. ʼn Raad (bestaande uit plaaslike aristokrate) en ʼn gimnasium vir die opvoeding van jong mense het die Griekse kultuur, godsdiens en spele bevorder. Die stad het ook sy eie magistrate gehad. Op ʼn stadium het dit ʼn bevolking van 200 000 gehad. Tessalonika het in 42 vC vir Octavius en Antonius teen Brutus en Cassius gesteun.

Tessalonika is een van die gemeentes wat tydens Paulus se tweede sendingreis gestig is (ongeveer in die jaar 50). Paulus volg hier sy bekende benadering: Soos dit Paulus se gewoonte was, het hy daarheen (die Joodse sinagoge) gegaan en op drie sabbatdae na mekaar uit die Skrif met die Jode geredeneer. Hy het die Skrif uitgelê (Handelinge 17:2 – 3).

Lukas beskryf die patroon van Paulus se besoek: aanvanklike belangstelling en ʼn positiewe reaksie onder Joodse en nie-Joodse simpatiseerders; Joodse teenstand;  burgerlike onrus;  Paulus en Silas verlaat Tessalonika in die donker!  Kort daarna skryf hy sy eerste brief aan die gemeente om hulle geestelik te versterk.

Tessalonika was egter nie net  ʼn florende handelstad nie. Dit was  ʼn stad vol afgode. Die mense wat tot bekering gekom het, moes hulle rug op al hierdie afgode draai. Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien (1 Tessalonisense 1:9). Keiseraanbidding was algemeen, maar hulle het ook die Grieks-Romeinse afgode aanbid. Veral Dionusius is aanbid.

Paulus se winkel was waarskynlik in ʼn insula – woonkwartiere op die boonste vlakke en jou winkel op die grondvloer. Jy kon van die straat af in die winkel instap. Hierdie was natuurlik ʼn gebied waar baie mense rondbeweeg het. Paulus het toegang gehad tot die ambagsmanne wat daar gewerk het en die mense wat kom koop het. Dit was ʼn goeie plek om die evangelie te versprei.

Die gemeente groei as gevolg van Paulus se leierskap en Jason se gasvryheid. Dit bestaan meestal uit nie-Jode. Ambagsmanne en handearbeiders was sekerlik deel van die gemeente (4:11). Wie was Jason? Hy was waarskynlik bekend, want Lukas stel hom nie verder bekend nie – hy het geen bekendstelling nodig nie. Ons weet nie eers of hy ʼn Jood of nie was nie. Sy naam is Grieks, maar baie Jode het ook Griekse name gehad. Jason is die Griekse weergawe van Josua. Hy was waarskynlik ʼn ryk man, want  sy huis was groot genoeg om sulke byeenkomste te huisves.

Die gelowiges in Tessalonisense het in baie moeilike omstandighede … die woord aangeneem met ʼn blydskap wat van die Heilige Gees kom (1 Tessalonisense 1:6). Wie was hierdie mense wat die lewe so moeilik vir die vroeë Christene in Tessalonika gemaak het? Julle moes van julle eie volksgenote dieselfde behandeling verduur as wat die gelowiges in Judea onder die Jode moes ly. Dit is die Jode deur wie  die Here Jesus en die profete doodgemaak is en ons vervolg is (2:14 – 15).

Volgens Lukas het Paulus se sending gefokus op die sinagoge net drie sabbatdae geduur. Daarna het hulle na Jason se huis verskuif. Meeste kenners vermoed dat Paulus ʼn paar maande in Tessalonika gebly het. Uit 1 Tessalonisense 1:6 en 2:14 – 16 lei ons af dat Paulus se prediking veral nie-Jode getrek het. Dit lei tot Joodse teenstand en gegriefdheid.

 

[Ons weet nie soveel van Tessalonika nie, want die moderne stad beperk uitgrawings. Salonika is vandag ʼn florende moderne stad, die grootste in Griekeland naas Atene en die regeringsentrum van Noord-Griekeland.]

Outeur: Dr Coen Slabber