Tevredenheid: ‘n Onnatuurlike toestand?

 

 “The future of humanity passes by way of the family” – Pous Johannes Paulus II

 

Tevredenheid: ‘n Onnatuurlike toestand?

Mense soek altyd na dit wat hulle nie het nie. ‘n Ou spreekwoord. Almal van ons verlang voortdurend na die volgende ding – ‘n beter werk/kar/huis/… Tevredenheid kom net nie natuurlik nie – dit is iets wat ons aktief moet ontwikkel. Om tevrede te wees, is ‘n stryd.

 

Almal van ons het wettige begeertes en behoeftes. God het dit aan ons gegee toe Hy ons gemaak het. Die probleem is dat ons hierdie behoeftes buite Christus probeer bevredig – en ons raak al hoe meer ongelukkig en ontevrede. Hoe kan ons na tevredenheid strewe?

  • Wees geduldig met jouself

As jy ontevrede is, onthou dat jy nie alleen is nie – meeste mense sukklel op een of ander stadium hiermee. Luister na Paulus: Nie dat ek uit gebrek praat nie,  want ek het geleer om in die situasie waarin ek is, tevrede te wees (Filippense 4:11 – Direkte Vertaling – Interliniêre Bybel). Paulus sê dat hy tevredenheid moes aanleer – dit het nie sommer vanself gekom nie. Wees geduldig met jouself as jy met ontevredenheid sukkel.

 

  • Ontwikkel ‘n dankbare hart

Maak nie saak wat jou omstandighede is nie, fokus daarop om ‘n dankbare hart te ontwikkel. As ons nie meer tevrede is met wat ons het nie en fokus op wat dit wat ons nie het nie, word ons ontevrede mense en glo God weerhou sy seën van ons. Ek wil U loof met ‘n dankoffer, ek wil die Naam van die Here aanroep (Psalm 116:17). ‘n Dankbare hart is ‘n offer. Streef daarna om God onder alle omstandighede te dank.

 

  • Fokus op vandag

As ons gedurig na vore kyk, sien ons nie die oomblik waarin ons tans is raak nie – en daarmee saam die seëninge wat ons vandag ontvang. Fokus op vandag; drink elke oomblik in. Daar sal nie nog ‘n dag soos vandag wees nie.

 

  • Vertrou op God se voorsiening

Die Here weet presies wat ons nodig het. In die woestyn het Hy die Israeliete van manna en kwartels voorsien om hulle elke dag te voed. Hy voorsien vir ons alles wat ons elke dag nodig het. Ons moet net ons oë oopmaak en sien wat Hy alles voorsien. Fokus op dit wat God elke dag voorsien.

 

  • Ons kry tevredenheid net in Jesus Christus

Christus alleen kan in ons begeertes en behoeftes voorsien. Ons omstandighede sal ons nie gelukkig maak nie; huise, karre, geld sal ons nie gelukkig maak nie. Christus sal ons leer om tevrede te wees ten spyte van ons omstandighede. Soos ons op Hom vertrou, kan ons soos Paulus sê: want ek het geleer om in die situasie waarin ek is, tevrede te wees.

 

Streef elke daarna om ‘n tevrede mens te wees.