Twee verduidelikings van die betekenis van die voetwassing (13:6-17)

Twee verduidelikings van die betekenis van die voetwassing (13:6-17) – Francois Malan

Simboliese betekenis

13:9-11 Petrus verstaan al weer verkeerd. Dit gaan nie om die wassing van sy liggaam nie, maar om die bereidheid om deur Jesus se offer aan die kruis gereinig te word van al jou sonde. Daarvan is hierdie voetwassing van Jesus ‘n teken (hupodeigma v15). Dit gaan om jou erkenning van jou sonde en dat jy alleen deur Jesus se nederige en onderworpe ‘liefdesdiens tot die uiterste’ daarvan verlos kan word. Dit word gesimboliseer deur hierdie voetwassing van sy volgelinge deur die Seun van God self, en hulle aanvaarding van sy reiniging.

Jesus sê hulle is alreeds rein, maar nie almal nie. In Joh. 15:3 sê Jesus: Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het (1983-vertaling reggesnoei). Jesus se woord en sy diens is onafskeidbaar. Hy bring die openbaring van God deur woord en daad. Die woord moet ontvang en geglo word, sodat jy deel van die ewige lewe kan wees (Joh. 3:16-21). En so gebeur dit dat Judas, wat Jesus se woorde en dade verwerp en besluit het om Hom te verraai, nie rein is nie, ten spyte daarvan dat Jesus sy voete ook gewas het as ‘n laaste oproep tot hom om hom te bekeer.

Die voorbeeld vir elke gelowige

doen soos Jesus: Jesus se ewige geluk en vreugde is die deel van elkeen wat nie alleen die betekenis ken van Jesus se diens aan sy leerders/slawe/gestuurdes, soos gesimboliseer deur sy nederige voetwassing nie, maar wat daarvolgens lewe! in gehoorsaamheid jou roeping as leerder/slaaf/gestuurder van jou Leermeester/ Eienaar/Sender. Dwarsdeur die Bybel en Jesus se lering word die noodsaaklikheid van ken en doen van God se wil beklemtoon (die hele bergrede in Mat. 5-7; veral Mat.7:21-23 hoor en doen; 24-27 bou op sand of rots; 23:1-3 skrifgeleerdes doen nie wat hulle leer nie; Jak 1:22-25 gelukkig as jy doen wat jy hoor; vgl. Deutr 28 se seëninge en strawwe). Jesus-volgelinge se status voor God en mens is hulle dienslewering, nie roem op hoogheid nie, maar bereidheid om aan mekaar die nederigste liefdesdiens te verrig. Dit is nie benede jou waardigheid as jou Here dit vir jou gedoen het nie – Hy het sy alles, sy lewe vir jou gegee aan ‘n kruis! (Mk 10:45). Ware geluk word verkry deur ‘n lewe van vrywillige liefdesdiens aan ander. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan