Uit die modderige slyk (1)

 

If we are to be part of this coming kingdom, God expects our lives – our churches and faith communities too – to be characterized by these authentic signs of our own transformation: compassion, mercy, justice and love – demonstrated tangibly – Richard Stearns

 

Uit die modderige slyk (1)

Psalm 40 leer vir ons baie van ons optrede as dinge in die lewe vir ons baie moeilik word. Ek gaan drie blogs aan hierdie psalm wy. Ek maak baie van die Ou Afrikaanse Vertaling gebruik

 

Hoeveel van ons het nie al in die modderige slyk vasgeval nie – ‘n diep put van wanhoop. Daar mag baie verskillende redes daarvoor wees, maar jou situasie voel hopeloos. Dit lyk dat hoe harder ons probeer om daar uit te kom, hoe dieper sak ons weg. Maar God wil nie hê dat ons in ‘n put van ongehoorsaamhed en wanhoop moet rondval nie.

 

In Psalm 40 lees ons dat die Psalmis in die modderige slyk vasgeval het. Hoekom? Want onheile sonder getal het my omring; my ongeregtighede het my ingehaal en ek kan nie sien nie; hulle is meer as die hare van my hoof, en my hart het my verlaat (40:12 – OAV). Die psalmis is bewus van sy sondes wat hom vasgevang en oorweldig het. Ons weet nie wat die sondes was nie, maar ons weet dit was baie. Hulle het hom oorweldig sodat hy nie meer reguit kan kyk nie en sy hart was flou. Hy het egter ook eksterne probleme van sy vyande: Laat hulle tesame beskaamd staan en rooi van skaamte word wat my lewe soek om dit weg te ruk; laat hulle agteruitwyk en in die skande kom wat behae het in my onheil (40:15 – OAV).

Die psalmis se situasie is desperaat; hy sien geen weg uit sy dilemma nie. Wat doen hy?

 

1.     Die psalmis onthou God verlossing in die verlede (40:1 – 10)

Die psalmis onthou ‘n ander dag toe God hom uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek het. Die psalmis onthou sy desperaatheid en sy hulpgeroepe. Hy onthou die lang wag. Hy spandeer nie baie tyd hieraan nie. Hy fokus op die Here wat hom verlos het. Ek het die Here lank verwag, en Hy het Hom na my toe neergebuig en my hulpgeroep gehoor; en my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op ‘n rots gesit; Hy het my gange vasgemaak.En Hy het ‘n nuwe lied in my mond gegee, ‘n lofsang tot eer van onse God. Baie sal dit sien en vrees en op die Here vertrou (40:2 – 4 – OAV). Hy dink aan hoe God se verlossing in stadia gekom het:

  • Vers 2: God buig na hom neer en hoor sy hulpgeroep.
  • Vers 3: God trek hom op uit die kuil van vernietiging en die modderige slyk. Die psalmis kon hom nie self daaruit kry nie – net die Here kan hom verlos.
  • Vers 3: God sit sy voete op ‘n rots en maak sy gange sekuur. Hy staan nou vas op soliede groond.
  • Vers 4: God gee aan hom ‘n nuwe lied – ‘n lofsang tot eer van onse God.

 

Hierdie is ‘n lofsang tot eer van onse, nie net my, God nie. God is die God wat verlos. Hy is die God van barmhartigheid. Baie sal hom sien en vrees en op die Here vertrou. Sommige mense sal sukkel om met die psalmis te identifiseer. Miskien was hulle nog nooit in ‘n desperate situasie nie. Maar dié wat al daar wees, sal weet waarvan die psalmis praat.

 

Maar die psalmis doen nog meer. Die wonder van God se verlossing laat die psalmis op drie maniere reageer:

 

  • Hy bevestig sy geloof in God

Welgeluksalig is die man wat sy vertroue in die Here stel en hom nie wend tot hoogmoediges en leuenaars nie. Groot dinge het U gedoen, Here my God – u wonders en gedagtes vir ons; niemand kan met U vergelyk word nie. Wil ek dit verkondig en uitspreek, dan is dit te veel om te vertel (40:5 – 6). Die  psalmis bevestig dat hy glo dat God se guns op diegene wat Hom vertrou rus, wat nie trotse mense en vals gode volg nie. Niks wat die wêreld aanbied, kan met die God van Israel vergelyk word nie.

 

  • Die psalmis wy hom toe aan God se wil

U het geen behae in slagoffer of spysoffer nie; ore het U vir my gegrawe; brandoffer en sondoffer het U nie geëis nie. Toe het ek gesê: Kyk ek kom; in die boekrol is dit my voorgeskrywe. Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen, en u wet is binne-in my ingewande (40:7 – 9 – OAV). Ore het U vir my gegrawe, word soms met U het my ‘n oop oor gegee. Die psalmis besef dat God dit vir hom moontlik gemaak het om Hom duidelik te hoor. Hy besef God het geen behae in rituele en eksterne godsdiens nie. Hy soek nie offers nie. Wat Hy soek is ‘n toegewyde hart en ‘n wil om gehoorsaam te wees.

Die psalmis wy hom toe om die Here op hierdie manier te dien. Kyk, ek kom … om u welbehae te doen. Dit is ‘n begeerte om gehoorsaam te wees.

 

  • Die psalmis verkondig God se woord

Ek verkondig u blye boodskap van geregtigheid in die groot vergadering; kyk, my lippe bedwing ek nie. Here, U weet dit. U geregtigheid bedek ek nie binne-in my hart nie; van u trou en u heil spreek ek; u goedertierenheid en u trou verberg ek nie vir die groot vergadering nie (40:10 – 11). Let op die negatiewes waarmee hy die positiewes beklemtoon: my lippe bedwing ek nie … u geregtigheid bedek ek nie … u goedertierenheid en trou verberg ek nie. Maar hy het: Ek verkondig ‘n blye boodskap van geregtigheid … van u trou en heil spreek ek.

 

Die psalmis onthou dat God hom uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek het en sy voete op vaste grond geplaas het. Dit is die verlossing in die verlede wat hom vertroue gee.

In die volgende blog gaan ons kyk na die psalmis se gebed vir God se verlossing in die hede.