Vals geloof


“The hottest place in Hell is reserved for those who remain neutral in times of great moral conflict.”
Martin Luther King, Jr

 

Vals geloof

Vals geloof het gewoonlik elemente van ware geloof in hulle, maar skiet ver tekort en op die langtermyn laat dit ons in die steek.

 

Vals geloof staan teenoor ware geloof. Die oorsprong van vals geloof is ‘n verkeerde gesindheid, dit plaas die klem op verkeerde plekke en mik in die verkeerde rigting. Vals geloof kan verskillende vorme aanneem. Kom ons kyk na vier voorbeelde:

  1. Ek-gefokusde geloof – die lewe is ‘n verhaal oor my

Die Christelike geloof is nie ‘n manier om te kry wat ek wil hê nie. As ek my Bybel lees slegs om my daaglikse stukkie raad of bemoediging te kry, of as my gebedslewe fokus op wat ek van God wil hê, is my geloof waarskynlik vals. Egte geloof is God-gesentreerd en nie selfgesentreerd nie.

 

  1. God en land geloof – Die ware storie is oor wat vir ons land goed is

Maak nie saak waar jy woon nie, jy wil hê dat jou land goed moet funksioneer. Maar as ek my identiteit kry uit my Suid-Afrikanerskap is my geloof swak en vals. As ek bereid is om vir my land te veg en te sterf, maar nie bereid is om swaar te kry en te lewe – selfs te sterwe – vir Christus nie, moet ek versigtig wees. As ek bid dat my land ‘n wenner ten koste van ander nasies moet wees, is my hart nie op God gerig nie, want sy hart klop vir die hele wêreld.

 

  1. Wat rondom my gebeur bepaal waar ek my geloofsenergie plaas

God gee om vir die ongeregtigheid en pyn van hierdie wêreld, maar om die mees onlangse krisis sentraal in ons geloof te plaas, is verkeerd. Vir sommige gelowiges is God die manier om lyding te beëindig. Ons volg nie God om lyding te verlig of ons probleme op te los of ‘n krisis te hanteer nie. ‘n Vals geloof kyk na God deur die lens van ‘n krisis; ‘n ware geloof begin en eindig by God en sien alles deur die lens van God.

 

  1. Om alles uit te sorteer, is waaroor geloof gaan

‘n Geloof wat geen plek vir misterie laat nie, is ‘n dooie geloof. Dit is arrogant om te dink dat om teologies alles te weet, is ware geloof. As jy geloof soos ‘n legkaart benader – ek moet net al die stukke in hulle plek kry – is dit ‘n vals geloof. Ware geloof rus in God se arms. Geloof is nie net misterie nie, maar misterie is ‘n bestanddeel van geloof.

 

In plaas van hierdie vals gesindhede het ons ware geloof nodig.