Van afsondering na gemeenskap na bediening

 

Better to shun the bait than to struggle in the snare. — Anoniem

 

Van afsondering na gemeenskap na bediening

Op 1 April 1996 skryf Henri Nouwen hierdie artikel vir Leadership Journal.

Die woord dissipelskap en dissipline het dieselfde stam. As ons dissipels van Jesus wil wees, moet ons gedissiplineerd lewe. In die geestelike lewe beteken dissipline die “poging om spasie te skep waarin God kan optree.” Dissipline beteken jy verhoed dat jou hele lewe gevul word; dit beteken dat spasie geskep word vir iets wat jy nie beplan of verwag het nie.

 

In Lukas 6:12 – 19 lees ons van Jesus wat sy twaalf dissipels gekies het. Jesus spandeer die nag in gebed en in afsondering met God. In die oggend roep Hy sy dissipels nader en kies twaalf van hulle en vorm so ‘n gemeenskap. In die middag, met sy dissipels, verkondig Hy die woord en genees die siekes. Let op die volgorde: afsondering – gemeenskap – bediening. Die orde wat Jesus vir ons leer begin by afsondering in gebed; daarna word ‘n gemeenskap gevorm; uiteindelik gaan hierdie gemeenskap uit om die goeie nuus te verkondig en te genees. Afsondering, gemeenskap en bediening is drie dissiplines waarin ons spasie skep  waarin God kan praat en optree. Doen ons dit gaan iets verrassend gebeur.

 

  • Afsondering

Dit beteken dat ek met God alleen is. Is daar spasie daarvoor in jou lewe? Hoekom is dit belangrik? Dit is die plek waar jy na God wat jou sy geliefde noem, kan luister. Om te bid, beteken ek laat daardie stem toe om oor die kern van my lewe met my te praat. Jesus het die hele tyd na daardie stem geluister. Op aarde is Hy geloof en gespot; Hy is gekruisig. Een ding het Hy geweet: Hy is God se geliefde Seun. Daaraan het Hy vasgehou. Daar is baie ander stemme wat ook praat. In hierdie wêreld is daardie stemme sterk. Jesus het ook hierdie stemme gehoor – dink maar aan sy versoeking in die woestyn. Jesus het die hele nag deurgebring in gebed met God. Jy moet bid; jy moet luister na die stem wat na jou, sy geliefde, roep. Die probleem is dat so gou as ons gaan sit, begin ons aan ander goed dink. Gebed is waar ons geestelike bediening begin. Dit is waar Jesus na God geluister het. Dit is waar ons na God luister.

 

  • Gemeenskap

Afsondering roep ons op na gemeenskap. In die afsondering besef jy dat jy deel van ‘n gemeenskap is. Gemeenskap is nie ‘n formele organisasie nie – dit is ‘n manier van lewe. Om jou vergader jy mense aan wie jy die waarheid wil verkondig. Dit is nie altyd maklik nie. In Jesus se lys van 12 name was daar die persoon wat Hom sou verraai. Hoekom volg gemeenskap op afsondering? As ons nie weet dat ons die geliefde seun/dogter van God is nie, gaan ons verwag dat iemand in die gemeenskap ons so sal laat voel. Hulle kan nie. In die dissipline van gemeenskap kry ons die dissiplines van vergifnis en feesvier.

 

  • Bediening

Alle dissipels van Jesus moet dien. Bediening beteken dat ek vertrou dat as ek die kind van God is, krag van my sal uitgaan en mense sal genees word. Hierdie bediening kan in twee woorde uitgedruk word: dankbaarheid en deernis. Kan ek dankbaar wees vir alles wat in my lewe gebeur. Bediening is om mense te help om te ontdek dat midde in die pyn is daar seën; midde in jou hartseer is daar blydskap. Deernis beteken om te ly en te leef met hulle wat ly.

 

Wat in ons lewe belangrik is, is nie sukses nie, maar vrugte. Hierdie vrugte word dikwels in my pyn en kwesbaarheid gebore.