Van vreemdeling na Koning Jesus – Rut (3)

Did Christ finish His work for us? Then there can be no doubt but He will also finish His work in us. —John Flavel

Van vreemdeling na Koning Jesus – Rut  (3)

Die verhaal van Rut leer vir ons hoe God op ‘n ongewone manier werk in die lewens van ‘n boer van Betlehem, ‘n vreemdeling uit Moab en ‘n vrou wat drie van haar gesin aan die dood verloor het. God het in die geskiedenis van die mens opgetree om Hom te openbaar en mense te verlos.

Kom ons kyk na drie sketse uit hierdie pragtige boek:

  • Drie vroue op pad na iewers
  • Die man se naam is Boas
  • ‘n Seun word gebore

 Skets 3: ‘n Seun word gebore.

Die inwoners het gesien hoe Naomi en Rut in Betlehem aangekom het – sonder enigiets, onder treurige omstandighede. Boas en Rut is getroud en Rut bring ‘n seuntjie in die wêreld.

Nou sing die vrouens ‘n blye lied: Aan die Here kom die lof toe omdat Hy vandag vir jou ‘n losser gegee het (4:14). Vergelyk dit met 1:21: My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom.. Nou is haar hande vol: Naomi het toe die seuntjie op haar skoot gevat en as haar eie aangeneem (4:16).

God het Naomi se hande volgemaak. Aan die begin het Naomi haar rug op die sekuriteit van haar land gekeer, maar nou vind sy sekuriteit by die God van Israel. Luister na Boas se woorde aan Rut: Mag die Here jou beloon vir wat jy gedoen het. Mag jy ‘n welverdiende beloning ontvang van die Here die God van Israel onder wie se vleuels jy kom skuil het (2:12).

Maar die verhaal eindig nie hier nie – dit eindig met ‘n geslagsregister. In 4:14 bid die vroue: Mag die losser se naam bekend wees in Israel. Hulle het nie besef hoe hierdie gebed beantwoord gaan word nie. In die geslagsregister lees ons dat die seuntjie se naam Obed was. Obed was Dawid se oupa. In Matteus 1:1 lees ons: Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid.` In die lewe van gewone mense berei God die pad vir Jesus Christus voor. In hongersnood word die pad van Jesus Christus – die brood van die lewe – voorberei.