Vas

Vas – Jan van der Watt

Vas, met ander woorde, om vanweë geestelike  of godsdienstige redes bewustelik te besluit om nie te eet vir ‘n beplaalde periode nie, word vandag nog wyd in die Christendom beoefen, byvoorbeeld in die Rooms Katolieke, Ortodokse en sekere van die Protestantse kerke. Dit word selfs deur sommige as verpligtend gesien. Tog is daar ook ‘n groot groep Christene wat nie meer vas nie, veral op grond van Jesus se woorde dat terwyl die bruidegom daar is, hoef daar nie gevas te word nie (Matteus 9:14-15; Markus 2:18-20). Jesus is nou by sy kerk en deur die Gees in mense. Daarom hoef mense nie meer te vas en so God se aangesig te soek nie. God het by, nee, in hulle gekom. ‘n Verder rede wat soms aangevoer word, is dat vas maklik misbruik kan word (Jesaja 58 of Matteus 6; Lukas 18:12) deurdat die persoon wat vas dink hy doen iets vir God wat dan deur God beloon moet word, met ander woorde, hy of sy bou ‘n soort geestelike kapitaal by God op wat hom of haar dan op die ou einde beter af laat by God as ander mense. Dit is ook nie die doel van vas nie. Daarbenewens lees ons ook nie veel in die briewe van Paulus of in Johannes oor vas  nie. Dit kan beteken dat dit nie meer so belangrik was in die kerk self nie.

Maar laat ons nou eers vra: wat is die funksie van vas? Dit is ‘n manier om jouself bewustelik vir God oop te stel en jouself geleentheid te gee om oor jou verhouding met God na te dink. Jy spandeer bewustelik ekstra tyd met God om oor jou sonde na te dink, jou afhanklikheid van God te ervaar en jouself net weer kans te gee om rustig en nederig op God se skoot te kan sit. Daarom is vas nie net kos los nie, maar behels aktiewe geestelike verdieping, onder andere deur gebed, nadenke, of die soek van rigting in jou lewe saam met God. Daarom kan daar gevas word wanneer jy ook al voel jy wil die Here spesiaal ‘opsoek’ of jy het Hom nou spesiaal nodig (vgl. Levitikus 16:29,31; 23:27,29,32; 1 Samuel 7:6; 2 Samuel 12:16; 1 Konings 21:27; Nehemia 9:1-3; Psalm 35:13; Lukas 2:37; 18:12). Die kos wat gelos word, gee jou meer tyd maar herinner jou ook aan dit waarmee jy besig is. Jesus het byvoorbeeld self 40 dae in die woestyn gevas ter voorbereiding van sy openbare bediening (Matteus  4:2). So het ook die kerk in Antiogië gevas en gebid (Handelinge 13:3).

Jesus het nie aan sy kerk die vaste opdrag gegee om te vas  nie. Hy het selfs gesê dat hulle nie hoef te vas nie. Hy was selfs negatief oor vas as dit gaan om misbruik ter wille van eie geestelike gewin of hoogmoed (sien Matteus 6). Tog het Jesus nie vas verbied nie. Uit dele soos Handelinge 13:3 is dit duidelik dat die gelowiges steeds voortgegaan het om te vas, maar om die regte redes, soos hierbo beskryf. Daarteen het die Bybel niks nie. As ‘n gelowige dus voel dat hy of sy spesiale tyd saam met die Here wil spandeer en bewustelik nie kos wil inneem nie om sodoende ekstra tyd met die Here te kan spandeer of herinner kan word deur die opoffering van die kos aan die geestelike pad wat hy of sy besig is om saam met die Here te loop, kan daar geen fout mee gevind word nie, nie as die eerlik en opreg gedoen word nie. Dit is jou keuse, maar dit is ook nie ‘n keuse wat jy op ander moet afdwing nie. Vas gaan oor die verdieping van jou verhouding met God en nie oor jouself en jou eie eer nie (Matteus 6:16-17).

Outeur: Prof Jan van der Watt