Verborge dissipelskap


“Darkness cannot drive out darkness; only light can do that. Hate cannot drive out hate; only love can do that.”
Martin Luther King, Jr

 

Verborge dissipelskap

Jesus roep sy dissipels een kant toe en sê vir hulle: “Neem julle dissipelskap handboek en berei voor vir die les.” Dit sal jy nêrens in die Bybel lees nie. Daar is geen twyfel dat Jesus ‘n dissipelmaker was en dat Hy vir sy dissipels lesse geleer het nie. Toe Hy vir sy dissipels gesê het: “Volg My,” was dit ‘n algemene oproep tot dissipelskap. Maar as dit kom by die dag tot dag onderrig van sy dissipels gebruik Hy ‘n kragtiger metode: verborge dissipelskap.

 

Verborge dissipelskap beteken dat dit nie aangekondig is nie. Sy lesse was nie in ‘n klaskamer nie, maar in die ware lewe. Hy kondig nie aan dat die tema van vandag se les “Jesus voldoen aan al ons behoeftes” is nie. Nee, Hy gebruik ‘n situasie in die werklike lewe waar die massas honger was. Hy betrek sy dissipels in die soeke na ‘n oplossing: Gee julle vir hulle iets om te eet (Matteus 14:13 – 21). Hulle verstaan nie. Hy neem die vyf brode en twee vissies en wys vir hulle dat Hy in hulle behoeftes kan voorsien – daar bly selfs twaalf mandjies vol brood oor.

 

Nog ‘n situasie uit die werklike lewe: Die dissipels is ontsteld – eintlik verontwaardig – dat die mense hulle kindertjies na Jesus toe bring. Nee, Jesus gebruik die situasie om ‘n belangrike les aan hulle oor te dra: Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie (Markus 10:15).

 

Jesus laat sy dissipels toe om te sien hoe Hy in die ware lewe bid, die siekes versorg, deernis teenoor die wat seergekry het, bewys en mense wat die samelewing verwerp, liefhet. Dit was eers aan die einde van sy lewe toe Hy vir sy dissipels in die bovertrek onderrig het.

 

Ons het nie ingewikkelde planne nodig om leergeleenthede in die werklike lewe te skep nie – daar is genoeg leergeleenthede in die lewe ingebou. ‘n Doeltreffende dissipel maak sy oë oop, sien die geleenthede raak en gebruik hulle. Maar twee faktore is van belang:

  • Die dissipel moet soos Christus lewe – ‘n voorbeeld – sodat hierdie daaglikse geleenthede deel van sy daaglikse lewe is.
  • Die dissipel moet genoeg tyd spandeer met diegene wat hy lei – een uur per week in ‘n klaskamer gaan nie werk nie.

 

Werk dit? Dit het vir Jesus gewerk. Maar luister maar net na die getuienis van die mense om jou. Vra vir mense: “Wie het die grootste geestelike impak op jou gehad?” Niemand verwys na ‘n klassituasie of ‘n preek nie. Hulle verwys almal na mense wat in hulle lewens belê het en hulle deur situasies in die werklike lewe geleer het.