Vergeet God? Psalm 119:49

. —Peter Marshall

Vergeet God? Psalm 119:49

Onthou tog u woord aan my, die woord waarop U my laat hoop het (NAV)

Dink aan die woord aan u kneg, omdat U my laat hoop het (OAV)

Onthou tog al die dinge wat U vir my, u dienaar, gesê het; ek hou met my lewe daaraan vas (Die Boodskap)

 

Onthou tog. Vir wie moet jy dit sê? Vir mense wat vergeet. Ons sou tog nie dink dat ons vir God moet herinner nie – God vergeet mos nie. Ongelukkig is die skrywer van Psalm 119 nie die enigste persoon wat God daaraan herinner dat Hy moet onthou nie. Baie mense in die Ou Testament voel dat hulle God moet herinner om te onthou:

  • Moses: Dink aan wat U met ‘n eed beloof het aan u dienaars (Eksodus 32:13)
  • Simson: Here my God, dink tog aan my (Rigters 16:28)
  • Hanna: As U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie (1 Samuel 1:11)
  • Salomo: Dink aan wat U toegesê het aan u dienaar, Dawid (2 Kronieke 6:42)

Daarby kan ons nog Hiskia (2 Konings 20:30), Nehemia (1;8 en 5:19), die psalmis (Psalm 74:2 en 89:51) en die skrywer van Prediker (Prediker 5:1) voeg.

Dink al hierdie mense nou dat God vergeet? Ek weet nie, maar wat ek wel weet, is dat ons maar by God kan pleit dat Hy sy beloftes sal nakom. Hoekom sê al hierdie mense dan dat God moet onthou?

  • Omdat Hy vergeet?
  • Omdat dit soms lyk asof Hy vergeet?
  • Omdat die psalmis vergeet het dat God nie vergeet nie?

Die antwoord is waarskynlik omdat dit soms lyk asof God vergeet. Daar is een groot verskil: ek word kwaad as mense my aan iets herinner  – vertrou jy my nie om te onthou nie. God word nie kwaad nie. As Hy sou kwaad geword het, sou so baie mense Hom nie daaraan herinner het om te onthou nie. 

Let ook daarop dat die psalmis nie arrogant is nie – hy verwys immers na homself as God se dienaar of kneg.

Hierdie is die eerste vers in die sewende gedeelte – Sajin – van Psalm 119.