Vergifnis en die gemeente in Korinte (1)

 “There are a thousand needs in the world, and none of them compares to the global need for the gospel.” – John Piper

 

Vergifnis en die gemeente in Korinte (1)

In die gemeente van Korinte was daar blykbaar ‘n moeilikheidmaker. In 2 Korintiërs 2:5 – 11 lees ons dat die gemeente hom vergeef het. Hieroor skryf Paulus: As julle hom iets vergewe, vergewe ek hom ook. Wat my betref, as ek iets moes vergewe, het ek dit klaar gedoen om julle ontwil. Daarvan is Christus my getuie. 11Die Satan moet nie die oorhand oor ons kry nie. Ons ken sy planne maar alte goed.

Paulus het die moeilikheidmaker reeds vergewe, net soos die gemeente dit reeds gedoen het.  Paulus wil nie die indruk wek dat dit om eie gewin is nie, maar beklemtoon dat dit ter wille van die gemeente is.  Christus is hiervan sy getuie.  Satan mag nie toegelaat word om enige voordeel te behaal uit die hartseergebeure wat in die gemeente rondom Paulus plaasgevind het nie.

 

Paulus se boodskap is duidelik: “Ek die slagoffer, het hom vergewe en julle kan dit ook doen.” As Paulus en die gemeente hom nie vergewe nie, mag die Satan die oorhand oor Paulus en die gemeente kry. Hulle sal die genadeweg versper.

Christus se vergifnis

Die krag om te vergewe kry Paulus in die teenwoordigheid van Christus. Christus keur dit goed en Hy bemagtig vir Paulus. As ons onwillig is om te vergewe, is dit ‘n bewys dat ons nie Christus se vergifnis ondervind het nie. In die Ons Vader gebed vra ons spesifiek dat God ons sondes sal vergewe soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree. Jesus gaan nog verder: As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie. Mense wat vergewe is, vergewe – hierdie was so ‘n integrale deel van Jesus se onderrig dat Hy ‘n gelykenis daaroor vertel het: die gelykenis van die amptenaar wat nie vergewe het nie (Matteus 18:21 – 35). Hierdie gelykenis sluit Jesus af met hierdie woorde: So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.

Toe John Wesley vir Generaal Oglehorpe te na gekom het, sê die generaal: “I never forgive.” Hierop antwoord Wesley: “Then, Sir, I hope you never sin.”

Deur ons harte op Christus te fokus wys Paulus op dié Een wat vergifnis van ons vereis, maar oop op Hom wat ons bemagtig om te vergewe. Ons is vrygestel om te vergewe. Vergewe ons ander sal ons sy genade in oorvloed ondervind.

Die Satan

Paulus eindig hierdie gedeelte oor vergifnis af met die harde werklikheid: ‘n hart wat nie vergewe nie is die hart waarin die Satan die oorhand gekry het. Ons moet dit nie toelaat nie: Ons ken sy planne maar alte goed. Die gemeente in Korinte kon op die rotse geloop het as hulle geweier het om die sondaar te vergewe – dit is ongehoorsaamheid aan God. Satan sou die wenner gewees het.

Gemeentes en mense is dieselfde – as daar mense is wat ons weier om te vergewe ten spyte daarvan dat hulle berou het, moet ons ernstig nadink oor ons geloof. Ware vergifnis is ‘n saak van gehoorsaamheid in alles. Ons kan dit doen.