Vergifnis en vertroue

 

We are all influenced by a desire of praise – Cicero

 

Vergifnis en vertroue

Rick Warren sê dat daar ‘n besliste verskil tussen vergifnis en vertroue is. Vergifnis hoef nie verdien te word nie, maar vertoue moet verdien word. Daarom vereis vertroue tyd – dit gebeur nie oornag nie. Vergifnis beteken nie dat vertroue onmiddellik herstel word nie. Vergifnis se fondament is genade; vertroue se fondament is werke. Jy verdien vertroue.

Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is my reg om te straf; Ek sal vergeld,” sê die Here (Romeine 12:19).

Christene moet vertrou dat God diegene wat hulle verontreg het, sal straf. Christene moet vergifnis vir hulle eie geestelike gesondheid beoefen.

 

Vergifnis is jou aandeel – of hulle nou reageer of nie, of hulle daarvoor vra of nie; of hulle selfs agterkom dat hulle vergifnis nodig het of nie. Jy vergewe vir jou onthalwe. Maar om ‘n verhouding te herstel, vereis meer as vergifnis. Dit vereis berou en ‘n herstel van vertroue … en baie tyd. Om nie te vergewe nie, is net so goed jy wond jouself.

 

As jy gegriefd is, maak dit jou meer seer as die persoon teenoor wie jy bitter is. Terwyl jy jou nog bekommer oor iets wat jare gelede gebeur het, het die ander persoon al lankal daarvan vergeet. Jou verlede is verby en kan jou slegs seermaak as jy daaraan vashou. God wil hê dat ons op Hom moet vertrou en sien hoe Hy iets goeds daaruit bring.

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28)