Verkeerde gebruik van teksverse

 

“God has not revealed himself in any religion, including Christianity. He has revealed Himself in his Son. In Jesus Christ, God has spoken for himself, and we must hear that speech.” Karl Barth

 

Verkeerde gebruik van teksverse

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! (Jeremia 29:11)

Graig Groeschel is besig met ‘n reeks oor die verkeerde gebruik van gewilde verse. Hierdie keer kyk hy na Jeremia 29:11. Hierdie vers moet in sy konteks gelees word. Dit is deel van ‘n brief wat Jeremia aan die ballinge in Babilonië geskryf het.

 

Ons moet verstaan dat ons in die Bybel spesifieke en algemene beloftes kry. Spesifieke beloftes is beloftes gemaak aan spesifieke mense op ‘n spesifieke tyd. Algemene beloftes is beloftes wat vir alle mense en alle tye geld.

 

Jeremia 29:11 is ‘n spesifieke belofte gemaak aan Jode in ballingskap. Tog is daar dele van hierdie belofte wat ook vir ons geld. Ek weet wat Ek vir julle beplan. Het God planne vir ons? Beslis. Het Hy ‘n doel vir ons? Beslis. Het God planne om mense te seën? Beslis. God is goed en hy gee graag goeie dinge vir sy kinders.

 

Die Bybel is vol wysheid, maar mense is geneig om hulle gunsteling verse verkeerd te interpreteer. Ons lees hierdie vers asof God Kersvader is.  Ons gebruik hierdie spesifieke beloftes en gebruik hulle buite hulle konteks en maak hulle op ons van toepassing. So dikwels maak ons ons eie planne en sê dat dit God se planne is.