Verkondiging teenoor uitleef van die evangelie

 

How sharper than a serpent’s tooth it is

To have a thankless child!

Shakespeare se King Lear

 

Verkondiging teenoor uitleef van die evangelie

Om diegene wat seer kry te dien en diegene wat verlore is te bereik, is nie teenoorgesteldes nie. Hulle is twee kante van dieselfde muntstuk – die evangelie.

 

Baie gemeentes sit met ‘n dilemma: hoe balanseer ons verkondiging en uitleef van die evangelie? Verkondiging van die evangelie is die duidelike verkondiging van die evangelie. Mense hoor die waarheid van verlossing deur Jesus Christus en het die geleentheid om in geloof te reageer. Uitleef van die evangelie is om ander in die Naam van Jesus Christus te dien. Christene moet sout en lig vir die wêreld wees – ‘n wêreld wat hierdie sout en lig dringend nodig het. Dit beteken ons leef die evangelie uit, maar dit is ‘n uitleef van die evangelie wat ons as mense verander het.

 

Wat is die roeping van die kerk? Is dit om die waarheid te praat of die waarheid uit te leef? Ons hoef nie te kies nie. Maar om hierdie twee belangrike aspekte van ons roeping te balanseer, is nie so maklik nie. So gebeur dit dat mense goeie dade doen, maar die fokus op verkondiging van die evangelie verloor het.

 

In Lukas 4:18 begin Jesus sy aardse bediening. Hy sê: Die Gees van die Here is op My. Dan vertel Hy van sy roeping om die evangelie aan armes te verkondig, die vrylating van gevangenes uit te roep, die gesig van die blindes te herstel en die onderdruktes te bevry. Dwarsdeur die Skrif lees ons van Jesus se kommer oor weduwees, weeskinders, die blindes en ander wat op die rant van die samelewing uitgestoot is. Christene moet leef soos Jesus wat gekom het om diegene wat seer het, te dien.

 

Hierdie selfde Jesus sê ook: Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is (Lukas 19:10). Dit gaan dus oor beide: die evangelie verkondig en die evangelie uitleef. Goeie werke is die resultaat van ons verlossing en vloei voort uit ons verhouding met Jesus Christus. Goeie werke verlos ons nie.

 

Jesus het gereeld die mense in die sinagoges geleer en elke soort siekte en kwaal gesond gemaak (Matteus 9:35). Om die evangelie uit te leef, vloei voort uit die verkondiging van die evangelie. As ons by Jesus se sending wil aansluit, moet dit by ons ‘n passie wees om ongelowiges met die transformerende krag van die evangelie te bereik. As ons soos Jesus wil wees, moet deernis ons motivering wees om die fisiese behoeftes van mense te hanteer.

 

Daar is geen nodigheid om tussen die verkondiging en die uitleef van die evangelie te kies nie. Ons kan tog nie vir mense sê dat hulle ‘n Verlosser het wat lief is vir hulle en ons het hulle nie lief nie.