Verlossing as die identiteit van God

Jesus’ signs and wonders were his calling card, one of the proofs that the kingdom of God had come – John Wimber

Verlossing as die identiteit van God

Die verlossing kom van ons God wat op die troon sit en van die Lam (Openbaring 7:10).

Ons het gesê dat God die Eienaar van verlossing is – die verlossing behoort aan Hom. Hier is ‘n belangrike woord in hierdie vers wat ons nie moet miskyk nie: ons. Wat sê dit vir ons?

  • Dit kom van ‘n spesifieke God en van niemand anders nie.

Wie is hierdie God? Dit is die God wat in die Bybel geopenbaar word: Yahweh, die God van die Ou Testament, en in die Nuwe Testament aan God die Vader van Jesus Christus. Verlossing is die eiendom van hierdie besondere God. Wat hierdie God van al die ander gode onderskei, is juis sy vermoë om te verlos.

Petrus en Johannes staan voor die Joodse Raad (Handelinge 4). Hulle het pas ‘n verlamde man genees. Wat die hoëpriester en sy trawante wou weet is: Deur watter krag en in wie se naam het julle dit gedoen? Hier was ‘n spesifieke gebeurtenis wat voor baie getuies gebeur het. Petrus antwoord: Julle almal en die hele volk Israel moet weet dat dit in die Naam van Jesus Christus van Nasaret is dat hy hier gesond voor julle staan – dié Jesus vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het. Op hierdie fondament, maak Petrus die volgende aanspraak: Hy bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.

Daarom beklemtoon die Bybel dit dat ons God moet ken. En dit is die ewige lewe (volgens Johannes dieselfde as verlossing): dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is (Johannes 17:3).

  • God is verlossing.

Die Bybel sê dat verlossing die identiteit van God definieer. In Deuteronomium 32:15 word God as die Rots wat hom gered het, beskryf. So lees ons dat die bejaarde Simeon die baba Jesus in sy arms neem en God prys: Omdat my oë u verlossing gesien het (Lukas 2:30). Die God wat in die Ou Testament as Yahweh en in die Nuwe Testament as Jesus van Nasaret geopenbaar word, is die God wat verlos. Dit is ‘n teken van sy uniekheid – die beslissende teken van sy identiteit.

  • Ander gode kan nie verlos nie.

Die teken wat vals gode van die ware God onderskei is die vermoë om mense te verlos. Afgode kan nie doen wat hulle belowe nie.

God is die enigste God wat kan verlos – dit is deel van sy identiteit