Verlossing en sending (3)

 

Grace is not simply leniency when we have sinned. Grace is the enabling gift of God not to sin. Grace is power, not just pardon. —John Piper

 

Verlossing en sending (3)

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

(Eksodus 1 en 2)

God is vasberade om Israel uit die onderdrukking te red. Maar verlossing vereis sending. Ons sending word van God se sending afgelei. In hierdie gedeelte sien ons dat God sy mense van slawerny – polities, sosiaal, ekonomies, geestelik – verlos het. Ons moet hierdie selfde bekommernis met God deel. Ons moet ook op die dringende fisiese en geestelike nood van die mense om ons reageer.

 

  • Gee om vir fisiese behoeftes

Hier kry ons nie net evangelisasie sonder enige sosiale optrede nie. Ons moenie die geestelike nood so beklemtoon dat ons die fisiese nood ignoreer nie. Onthou hierdie was werklike mense verslaaf deur ‘n werklike tiran. Hulle kon nie aanbid as hulle sewe dae ‘n week moes werk nie. Verkondiging is die belangrikste taak van die kerk, maar ons kan nie dade van barmhartigheid en geregtigheid ignoreer nie. Soms kan mense nie ons boodskap hoor voordat hulle van fisiese ongeregtighede vrygestel word nie. Geregtigheid is liefde in die openbaar. As ons mense werklik liefhet sal ons hulle van die evangelie vertel terwyl ons na hulle fisiese behoeftes omsien. Hier is ‘n hele aantal sake van belang:

  • Die Nuwe Testament verplaas nie die fisiese aspekte van die eksodus met geestelike aspekte daarvan nie. Ook in die Nuwe Testament gaan dit oor woord en daad.
  • God het nie verander nie. God is steeds bekommerd oor ware ongeregtigheid. Jesus het die Fariseërs gekritiseer, want hulle het belangrike sake soos barmhartigheid en geregtigheid geïgnoreer (Matteus 23:23). Ons sien God se liefde en geregtigheid aan die kruis. God is regverdig en sy mense moet Hom navolg.
  • Dit is verkeerd om te dink dat wat God vir Israel gedoen het, nie is wat Hy vir ander mense ook sal doen nie. Onthou God het Israel gekies sodat hulle ‘n seën vir ander kan wees. Hy kies hulle en tree op vir hulle sodat ander mense kan weet hoe Hy is. God is altyd teen onderdrukkers. Israel is ‘n model om vir ons daaraan te herinner dat God in hierdie wêreld werk. Israel is ‘n voorbeeld van God se barmhartigheid en geregtigheid vir almal om te sien.
  • Ons moenie die oproep vir sosiale optrede ignoreer nie – die vroedvroue word vir hulle optrede geëer. Hulle tree op as voorbeelde vir ons – ons moet ook die swakkes en kwesbares beskerm.

 

  • Gee om vir geestelike behoeftes

Hierdie gedeelte gaan nie oor sosiale optrede sonder evangelisasie nie. God wou Israel bevry dat hulle Hom kan dien en aanbid. Ons het ‘n geïntegreerde Bybelse model nodig. Dit neem in aanmerking dieselfde breë kommer wat God vir sy mense het. Ons moet evangeliseer om mense van hulle slawebande aan sonde te bevry. Maar ons moet ook vir die onderdruktes veg deur te veg vir geregtigheid.