Verlossing as herstel na heelheid

 

No one who is a man-pleaser preaches the whole counsel of God. —R.C. Sproul

 

Verlossing as herstel na heelheid

In Lukas 8:28 – 39 lees ons van Jesus wat ’n man van bose geeste bevry. Hierdie man dra nie klere nie en bly tussen die grafte. Sy mense het hom met hand- en voetboeie vasgemaak in ’n poging om hom in bedwang te bring – sonder sukses. Ten einde laaste gooi hulle die handdoek in en los hom daar tussen die grafte. Hy word egter verlos deur Jesus wat die geeste beveel om hom te verlaat. Hy word weer ‘n heel mens.

 

Dit het al met baie mense gebeur. Miskien was hulle toestand nie so ooglopend soos hierdie man s’n nie. As ons aan die gelykenis van die saaier dink, sal ons sê dat hierdie man se hart soos harde en onproduktiewe grond was – jy mors net saad as jy daar saai. Maar die krag van God se woord kan selfs sulke grond verander. Dit kan verlossing bring – verlos van die legio persoonlike demone wat ons teister – en ons verander in ‘n produktiewe verkondiger van die evangelie.

 

Die probleme is dat Christene die donker plekke waar verlore en desperate mense bly, vermy. Hulle gedrag maak ons bang. Ons glo dat hulle nie verlos kan word nie. Daarom hoor hulle nooit die boodskap van verlossing nie. Jesus was egter bereid om na enige plek te gaan om die evangelie te verkondig. Die hele wêreld en nie net ’n klein deeltjie daar van moet na heelheid herstel word.

 

Die ongelooflike van hierdie verhaal is watter mense Jesus gebruik om sy boodskap uit te dra. Hier bevry hy ’n man van baie bose geeste. As alles verby is, gee Jesus aan hom ’n opdrag: Gaan terug na jou huis toe en vertel alles wat God vir jou gedoen het – en hy het dit gedoen!