Verstaan vryspraak (1)

The gospel is neither a discussion nor a debate. It is an announcement – Paul S. Rees

 Verstaan vryspraak (1)

Hoe kom ek in die hemel? Dit is ‘n algemene vraag waarop ons ‘n verskeidenheid antwoorde kry: wees ‘n goeie mens; moenie selfsugtig wees nie; moenie ander seermaak nie; doen wat reg is; onderhou die wette van God; ens. Lees ons egter die Nuwe Testament sien ons dat al hierdie dinge  werke genoem word. In alle gevalle werk ons om God se goedkeuring te kry – ons probeer vir ons verlossing werk.

 Maar dan kom Paulus en hy sê: Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel deur die wet leer ‘n mens wat sonde is (Romeine 3:20). Hier sien ons dat die wet vir my sê wat sonde is. Deur die wet te onderhou, kan ek nie vrygespreek word nie – in ieder geval kan ek nie die wet volkome onderhou nie. Die wet maak my bewus van my sonde – ek besef ek is ‘n sondaar.

 

 

As God my moes oordeel op die onderhouding van die tien gebooie, hoe sou ek vaar? Om goed te wees volgens God se definisie moet ek moreel volmaak wees. Omdat ons besef dat dit nie moontlik is nie, water ons die definisie af. Ongelukkig is dit net God se definisie wat tel. Wat is sy bevinding? Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie (Romeine 3:10).

 

Mense hou nie daarvan om te hoor dat hulle nie goed genoeg is om hemel toe te gaan nie. Dit is baie moeilik om te erken dat ons desperaat is. Ons is te trots om dit te erken. Maar net God is volmaak. Wat nou? Ek moet vrygespreek word. Wat beteken dit om vrygespreek te word? En tog weet ons dat ‘n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Jesus Christus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Jesus Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek  op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie (Galasiërs 2:16).

 

Vryspraak is ‘n woord wat in ‘n hof gebruik word. In ‘n hof word ons vrygespreek of veroordeel en gevonnis. God is die regverdige Regter oor die heelal. God verklaar dat ons vrygespreek is – geen veroordeling en geen vonnis nie. Dit beteken ons sonde is verwyder en dat ons vry van God se toorn is. Maar hierdie vryspraak is voorwaardelik: ons moet in Jesus Christus glo. As ek in Jesus Christus glo – dat Hy in my plek gesterf het en vir my die straf gedra het – word ek vrygespreek. Nou is ek vry van veroordeling.

 In die wêreld is ek onskuldig tot ek skuldig bevind word. Maar voor God is ek reeds skuldig bewys. Ek is skuldig totdat God my vryspreek.

 

Ons gaan volgende keer verder na vryspraak kyk.