Vertrou God vir wie jy is.

Love is not affectionate feeling, but a steady wish for the loved person’s ultimate good as far as it can be attained – C. S. Lewis

 

Vertrou God vir wie jy is.

U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder … U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is (Psalm 139:13 en 16).

Baie mense sukkel om hulleself te aanvaar soos hulle is. Ons moet God vertrou vir wie ons is. Psalm 139 help ons baie:

 

  • God het ons gemaak wie ons is: God het my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder (vers 13). Wat die psalmis hier sê, is dat God toesig hou oor die biologiese proses in my moeder se baarmoeder. Die woord wat hier gebruik word vir my innerlike wese wat God vorm, is niere.  Die Jode het dit as die plek van ons emosies en morele sensitiwiteit gesien. Letterlik sê hierdie vers dat God my persoonlikheid geskep het. God maak ons wie ons is – fisies, verstandelik en emosioneel. Job sê: U hande het my gevorm, my gemaak … Dink daaraan dat U my soos klei gevorm het …het U my nie soos botter berei, soos kaas gevorm nie? U het my vel en vleis gegee, U het my bene en senings aanmekaargeweef (Job10:8 – 11). Ons lees ook: Met u eie hande het U my gemaak, my gevorm (Psalm 119:73); God sê vir Jeremia: Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken (1:5). Die psalmis tob nie oor hoe God hom gemaak het nie: Wat U gedoen het, vervul my met verwondering (139:14). Die psalmis prys God nie omdat hy aantreklik was nie, maar omdat God hom gemaak het. Die ewige God wie se wysheid oneindig is en wie se liefde volmaak is, het my en jou gemaak. Hy wil hê dat ons moet wees net soos ons is, want Hy het jou lief. Selfaanvaarding beteken dus basies dat ek God vertrou vir wie ek is. En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? (1 Korintiërs 4:7).
  • Vertrou God vir wat ek is. God het ons geskep presies soos Hy dit wou hê sodat ons sy plan vir ons kan vervul. In Psalm 139:16 sê die psalmis: Al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hierdie vers het twee moontlike betekenisse:
  1. Al die ondervindings van die psalmis se lewe is in God se boek opgeskrywe – wat in sy lewe sal gebeur; God se plan vir sy lewe. Dit pas beter in by die voorafgaande verse. God se plan vir ons sluit in wat Hy wil hê dat ons moet wees en doen. Daarom gee Hy aan ons spesifieke geestelike gawes.

 

Wie ons is, is nie ‘n biologiese toevalligheid nie: God het dit vir jou beplan. Omdat God ons dae bepaal het, het elke dag betekenis. Dit beteken nie ons moet fatalisties die status quo aanvaar nie. As ons die geleentheid het om ons situasie op so ‘n manier te verbeter dat dit God sal verheerlik, moet ons dit doen. God se woorde aan die ballinge in Babilon moet ons bemoedig: Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! (Jeremia 29:11). Dit openbaar God se hart vir sy kinders. God se plan is goed. Daar is baie dele van sy plan wat vir ons skadelik lyk, maar ons moet God vertrou ten spyte van alles wat vir ons negatief lyk.

  • Vertrou God vir leiding. As God dan ons dae bepaal het, kan ek hom vertrou om my te lei om sy plan te verwesenlik? Die Psalmis sê: Hy lei my op die regte paaie (Psalm 23:3). Die beeld is dié van ‘n herder wat sy skape lei. Die inisiatief lê by die herder; hy besluit waar is drinkplekke; hy lei die kudde. As ons herder het God onderneem om ons te lei.