Vier beginsels in die boek Ester

Kill sin before it kills you –  Tim Keller

 

Vier beginsels in die boek Ester

Ester is ‘n boek wat baie mense tydens hulle Bybelstudie oorslaan. Maar Ron Edmondson sê dat daar vier belangrike beginsels in die boek Ester is wat ons moet leer.

  1. God het ‘n spesiale plan vir jou lewe

Ester word in die koninklike paleis geplaas, nie toevallig nie, maar met ‘n spesifieke doel. ‘n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop (Spreuke 16:9). God het nie ‘n fout gemaak toe Hy jou geplaas het waar jy vandag is nie. Ons spandeer te veel tyd om te probeer uitpluis waar God ons wil hê of deur te wens ons was iewers anders. Wat ons moet doen, is om God toe te laat om iets met ons lewe te doen net daar waar ons is terwyl ons uitsien na nog meer om te kom.

 

  1. Soms moet jy teen die raad van ander gaan – selfs teen dit wat jy graag wil doen om God se plan te volg

Ester moet die koning nader, maar sy het nie toestemming gehad om dit te doen nie. Dit word net nie gedoen nie. Geen wonder Ester sê: As ek moet omkom, moet ek maar omkom (4:16). Soms maak God se wil vir ons sin. Dit beteken nie dat dit van jou verwag sal word om nie vir God te waag nie. Die beste dinge in die lewe vloei dikwels voort uit groot waagstukke. Net omdat dit moeilik is, beteken nie dat dit nie God se wil is nie.

 

  1. Die tyd om God se plan te volg, is nou

Mordegai laat weet vir Ester: As jy nou swyg en daar kom van ‘n ander kant af uitkoms en redding vir die Jode, sal  jy en jou familie omkom. Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het (4:14). Hierdie is ‘n vraag: Wie weet? Hulle was onseker. Hulle weet sy in ‘n koningin; hulle weet sy het die geleentheid om die koning te sien; hulle weet dat God graag sy mense wil red. Hulle weet nie presies wat Ester nou veronderstel is om te doen nie. Wie weet? Daar kom tye in ons lewens waar ons al die inligting versamel het; jy het gebid; jy het God se raad gesoek … maar jy is steeds onseker. Ester wag drie dae, maar op een of ander punt moet jy jou moed bymekaar skraap en vorentoe beweeg. Moenie bang wees om God toe te laat om die uitkoms te bepaal nie.

 

  1. Om God volledig te vertrou bring ‘n groot beloning

In elke provinsie en in elke stad, orals waar die besluit en proklamasie van die koning bekend geword het, was daar vreugde en blydskap onder die Jode. Hulle het maaltye gehou en feesgevier. Ook het baie mense uit die ander volksgroepe Jode geword omdat hulle skrikbevange was vir die Jode (8:17). Ester het die Jode gered van vernietiging. Die beloning vir haar gehoorsaamheid was meer as wat sy ooit verwag het. Op die langtermyn is dit altyd voordelig om God te gehoorsaam. Die wêreld om ons soek antwoorde. Ons het nie al die antwoorde nie, maar ons het ‘n God wat al die antwoorde het. Wanneer laas het jy gevra: God wat wil U hê, moet ek met my lewe doen?