Vier Evangelies, Een Jesus?

Vier Evangelies, Een Jesus? – Kobus Kok

Twee weke gelede het ek ‘n katedraal in Duitsland by Kevelaar besoek. Teen die muur van die kerk, soos in baie katedrale in Europa en in antieke Christelike kuns, sien mens die uitbeelding van ʼn evangelie skrywer en ʼn simbool van ʼn dier. Mens sien dit in skilderkuns teen die mure, uitgekerf in hout preekstoele en kleurvol in die vensters van die kerke. So word Matteus dikwels uitgebeeld met die gesig van ʼn mens, Markus met die gesig van ʼn leeu, Lukas as ʼn bul en Johannes ʼn arend.

vier_evangelies

 

Agter hierdie kunstige aanbieding van die evangeliste staan ʼn interessante tradisie. Die allokasie van hierdie simbole vir die evangelie skrywers is geïnspireer uit Esegiël 1:10, in sy visie van God en natuurlik ook Johannes se Openbaring boek toe hy die troon van God gesien het (Openbaring 4:7). In beide hierdie tekste is daar ʼn mens, ʼn bul, ʼn leeu en ʼn arend rondom die troon van God. In die geskrifte van die antieke Joodse rabbi’s (kyk Rabba Shimmoth 23:13) verduidelik hulle vir ons dat die mens (kroon van  skepping), die bul (beste landdier), die leeu (beste wilde dier) en die arend (beste voël) die beste figure verteenwoordig wat daar in elke sfeer op aarde is. Verder hang dit saam met die totaliteit van die skepping en verteenwoordig die vier windstreke – noord, oos, suid en wes. Hierdie vier figure word vroeg in die vroeë kerk met die evangelie skrywers verbind. Tog sien ons verskillende weergawes in die vroeë kerk. Johannes (Arend of Leeu) en Markus (Leeu of Arend) se simbole word dikwels omgeruil terwyl Matteus en Lukas altyd dieselfde bly.

Irenaeus, biskop van Lyon in Frankryk teen die einde van die tweede eeu n.C., het die Christen geloof verdedig teen die ketters. Hy probeer veral om misverstand uit die weg te ruim en mense op te lei. Vir hom kon daar net vier Evangelie skrywers wees, nie minder of meer nie omdat daar net 4 windstreke is, 4 sheribim figure rondom God se troon en 4 verbonde (Adam, (Abraham), Noag, Moses, Christus). Vir Irenaeus is die vier evangelies 4 verskillende kante van Jesus. Hy groepeer die evangelies dan so: Matteus – mens; Johannes – leeu; Lukas – bul; Markus – arend. Hierdie volgorde verteenwoordig die vroegste volgorde wat gevolg is met die indeling van die evangelies en staan as die Latynse of Westerse indeling bekend (150-180nC). Matteus en Markus word prioriteit gegee omdat hulle apostels van Jesus was en die ander twee was assosiate of medewerkers van die apostels (Markus was ʼn helper van Petrus).

Hierdie indeling was egter nie die enigste indeling nie. Die indeling wat ons vandag ken en gebruik (Matteus, Markus, Lukas en Johannes) het eers later so gekom en wel die eerste keer in die muratorion kanon (170-200n.C.) en is veral deur die Griekse skrywers in die Oos-Mediterreense gebiede gebruik. Theofilos (van Sirië), wat kommentare geskryf het op die evangelies (tydgenoot van Irenaeus) was een van die vroegstes van hierdie deel van die kerk wat Johannes met die arend verbind en Markus met die leeu wat die volgorde van die ooste (Matteus, Markus, Lukas, Johannes) met die orde van die beelde in Esegiël verbind. Dus word die Griekse (Oos-Mediterreense) kanon volgorde so aan die evangelie skrywers verbind: Matteus – mens; Markus -leeu; Lukas- bul; Johannes- arend.

Uiteindelik sou Jerome alles standaardiseer. Hy het die Nuwe Testament in Latyn vertaal (Vulgaat) teen ongeveer 400 n.C. en gebruik die Griekse volgorde en beelde in sy Bybel. Aangesien dit die standaard Bybel geword het in daardie tyd het dit toe so gebeur dat die dominante volgorde die een geword het wat ons vandag nog ken.

In die antieke tyd was daar nie boeke met mooi omhulsels en ʼn kort opsomming om jou te oriënteer oor wat in die boek aangaan en wie die skrywer is en waarvandaan hy kom nie. Verder kon baie min mense lees en skryf. Visuele kuns is dus gebruik om mense te leer. Verder het mens in antieke geskrifte sommer in die openingswoorde al die leser voorberei sodat hy/sy weet wat kom. So het die antieke geleerdes dan na die eerste paar verse (toe nog nie verse nie) van die Bybelboek gekyk en daarvolgens die boeke ingedeel onder die beelde wat ons hier bo bespreek het.

Die meeste antieke kommentators was dit eens dat Matteus met die figuur van die mens verbind kan word omdat hy begin met die menslike genealogie van Jesus (Matteus 1:1-17). So verwys Lukas in sy openingswoorde na die priesterlike posisie van Sagaria (Luk 1:5). Aangesien die bul as offerdier beskou is het die vroeë kerkvaders Lukas daarmee verbind omdat hy na die priesterlike dimensie verwys. Markus aan die ander kant, begin sy evangelie met die verkondiging van die evangelie in die wildernis (Markus 1:3) woestyn) en leeus brul gewoonlik in die wildernis (Amos 3:4). Johannes word met die arend verbind omdat hy soos ʼn sterk arend sommer van die openingswoorde uitstyg en vertel dat Jesus van die begin af by God was en self God was en God se hart vir die mens kan wys (Johannes 1:1-18).

Simbole was veral in die vroeë kerk en in die Middeleeue die manier waarop mense geleer is en dit het hulle gehelp om die evangelie beter te verstaan. Vandag beweeg ons weer in ʼn tyd waar simbole belangrik word en waar mense, veral jongmense, toenemend visueel ingestel is. Myns insiens kan hierdie simbole weer nuttig gebruik word om ons jongmense (en oumense) te help om die uniekheid van elke evangelie te verstaan. Die evangelies is nie bloudrukke van mekaar nie. Die evangelies is inderdaad, soos die vroegste kerkvaders al opgemerk het – vier noodsaaklike, verskillende kante van Jesus, oor wie ons nooit genoeg sal kan sê nie, omdat daar net nie genoeg plek sal wees om al die boeke te hou nie (soos Johannes dit stel in Johannes 21:25). Daar is wel vier verskillende evangelies, maar hulle vertel almal vanuit hulle unieke hoek van presies dieselfde Jesus. Die vier saam gee vir ons ʼn genuanseerde idee van wie Jesus was.

 

Lees gerus die boek van Richard A. Burridge (2005). Four Gospels, one Jesus? A symbolic Reading. Eerdmans.  (Hierdie boek kan by Amazon bestel word en kos ongeveer R100- R120). Richard is die dekaan van Kings College in London.)

 

Outeur: Dr Kobus Kok