Vier teologiese waarhede uit Openbaring 5

 

At least five times the Faith has to all appearances gone to the dogs. In each of these five cases, it was the dog that died – G. K. Chesterton

 

Vier teologiese waarhede uit Openbaring 5

In hierdie gedeelte kry ons vier waarhede. Kom ons kyk na die vier waarhede:

  • Ons soewereine God hou die bestemming van die wêreld in die palm van sy hand

In vers 1 lees ons dat God in sy regterhand ‘n boekrol vashou. Hierdie boekrol, soos ons later sal hoor, bevat God se voorafbepaalde planne vir die toekoms. Dit bevat spesifiek die verloop van die geskiedenis tot by die einde van die wêreld en die voltrekking van God se koninkryk. Dit sluit in God se soewereine wil vir die hele skepping. Dit alles is in God se hand. God is soewerein oor die natuur, maar ook oor nasies; Hy hou die heersers van die wêreld in die palm van sy hand. Hy skep en onderhou alle dinge – ook die mens. Hy het die reg om sondaars te verlos en te verdoem. God betrek ons by sy sending, nie omdat Hy ons nodig het nie, maar omdat Hy ons liefhet.

 

  • Die toestand van die mens is hopeloos

Hier lees ons van die engel wat hardop uitroep: Wie is waardig om die boek oop te maak deur die seëls daarvan te breek? Hierdie boek bevat God se verlossingsplan: die uitwissing van die bose, die oorwinning oor die dood en die finale verwydering van sonde. Dit sluit ook die koms van die koninkryk van God in. Nou die probleem: Niemand is in staat om die boek oop te maak nie. Wie kan al hierdie dinge teweeg bring? Johannes huil, want daar is niemand wat dit kan doen nie. Sonder Christus het die mens geen hoop nie.

 

  • Die beste nuus is dat die Lam heers as die soewereine Here oor alles

Maar dan sê een van die ouderlinge: Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak. Ons sien dus dat Christus oorwin het. Hoe het Hy die sonde en dood oorwin? Johannes kyk rond en sien voor die troon ‘n Lam – die Een wat geslag was. Hoe oorwin die Leeu? Deur as Lam te ly. Hy het die dood in my plek verduur en die dood in my plek oorwin. Hy het uit die graf met al die mag en gesag in hemel en op aarde opgestaan. Sy sewe horings is ‘n teken van sy mag en sy sewe oë ‘n teken van sy alsiendheid. Jesus neem die boek by God.

 

  • Die versoening van Christus is genadig en globaal

Nou sing die die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge ‘n nuwe lied oor hierdie wonderlike versoening. Christus het met u bloed mense vir God losgekoop uit elke stam en taal en volk en nasie. God het sy Seun gestuur om jou vir Hom los te koop – en ook uit uit elke stam en taal en volk en nasie. Daarom het Jesus ons uitgestuur om dissipels van al die nasies te maak.