Vlakke van bestaan – Hermie van Zyl

Michelle vra:

Ek het by ’n pastoor gehoor dat daar verskillende vlakke van bestaan is, byvoorbeeld die fisiese (waar ons as mense lewe), dan ’n volgende een waar ons bose geeste kan sien, en dan ’n volgende waar jy engele kan sien, ensovoorts. Is dit waar? Verduidelik asb.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Hierdie vraag kan op twee maniere beantwoord word: godsdienshistories en teologies. Ek gee kortliks aan beide aandag.

Godsdienshistories

Met “godsdienshistories” word bedoel die manier hoe die antieke mens, waaronder ook die gelowige Jood en Christen, sy godsdiens beleef en uitgeleef het. Kennis hiervan is vir ons vandag meer informatief as normatief, dit wil sê, ons kan nie destydse denke en gebruike net so heelhuids as normatief oorneem vir vandag nie. Ons dink immers vandag anders oor die wêreld as die antieke mens, selfs al word ons steeds beïnvloed deur die tradisies wat ons in die Bybel aantref. Maar dit is wel nodig om soveel as moontlik van hierdie godsdienshistoriese agtergrond te bekom, omdat dit onontbeerlike inligting vorm vir hoe ons die Bybel verstaan vir ons eie tyd. Daarsonder kan ons nie onderskei waarop dit eintlik aankom en wat steeds vir vandag geld nie.

Die antieke mens, waarby die Bybelskrywers uiteraard ingesluit word, het anders gedink oor die samestelling van die kosmos as ons vandag. Hulle het byvoorbeeld aan ’n “drieverdieping”-kosmos geglo. Die “grondverdieping” is gesien as die aarde – ’n plat skyf wat op sy pilare gegrondves was in die oerwaters. Die “kelder” was sheōl of die doderyk (soms ook die onderaardse diepte genoem), ’n gebied onder die aarde waarheen die siele van afgestorwenes gegaan het, en waar, volgens latere sienings, die duiwel en demone ook gevange gehou word tot die eindoordeel. Die “eerste verdieping” was die uitspansel of firmament wat soos ’n koepel bo die aarde gespan en met pilare op die aarde se eindes gevestig is. Die son, maan en sterre was aan die koepel geheg. Die koepel het ook die oerwaters van die hemel van die oerwaters onder die aarde geskei. Die koepel het sluise gehad wat van tyd tot tyd oopgegaan het en dan het dit op die aarde gereën. Agter die koepel was die hemel, waar God en sy engele gewoon het.

Die hemel is verder deur die Jode in verskillende vlakke ingedeel. Die literatuur wissel hieroor, maar die gewildste voorstelling was dat daar sewe hemele is, min of meer in rangorde geplaas, met die engele in al die hemele en God in die hoogste hemel. Sommige skrywers praat ook van drie en tien hemele. Daar is verder name aan elkeen van hierdie hemele gegee, met ’n engel wat oor elkeen die wag hou. Ons kry iets hiervan in die Nuwe Testament as Paulus in 2 Kor 12:2-4 sê dat hy weet van ’n man (hy praat waarskynlik van homself) wat tot in die derde hemel weggeruk is en daar onuitspreeklike woorde gehoor het. In dieselfde asem praat hy ook van die paradys, wat die vermoede laat ontstaan dat die derde hemel en paradys vir hom een en dieselfde plek was. Die meeste geleerdes verstaan dit ook so dat Paulus aan die derde hemel as die hoogste hemel gedink het, die plek waar God, die engele en die afgestorwe gelowiges woon. Die Openbaringboek verleen verdere luister aan hierdie opvatting deur te praat van die vier lewende wesens en 24 ouderlinge wat rondom die troon van God versamel is. Op sy beurt gaan hierdie opvattings terug op die Ou Testament, plekke soos Eseg 1:5 en Jes 6:2. Die Jode het verder ’n uitgebreide engeleleer gehad. Engele is in verskillende klasse ingedeel, soos aarts- of hoofengele, beskermingsengele, engele vir die verskillende volke, engele wat God se oordeel uitvoer, sy wet promulgeer, en sy genade en barmhartigheid bekendmaak. Die aartsengele het name gehad, waarvan twee in die Bybel behoue gebly het, naamlik Gabriël (Luk 1:26) en Migael (Dan 12:1; Judas :9; Op 12:7).

Die teenpool van die engele was die duiwel en sy demone. Hulle het deel gevorm van die onsigbare wêreld, maar was nie, soos die engele, naby die teenwoordigheid van God in die hemel nie. Hulle woonplek was primêr die onderaardse sfere, soos die onderaardse diepte, begraafplase, onherbergsame plekke en onderaardse skeure. Van hier het hulle aanvalle op mense geloods om dié te teister en te beset. Die Nuwe Testament gee blyke van hierdie opvattings in gedeeltes soos Mark 5:1-13, Judas :6-7, en Op 20:3, waar die demone in verband gebring word met begraafplase en die onderaardse diepte. Hierbenewens was daar ook die opvatting, meer vanuit die Griekse wêreld, dat die lug gevul is met allerlei bose geeste. Die lug was dus vir die antieke mens nie ’n neutrale domein nie. Daarom dat ’n teks soos Ef 6:12 sê dat die gelowige se stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen elke bose gees in die lug. (Dit is moontlik so verstaan dat die bose geeste die lug – die dele onder die hemelkoepel – okkupeer.) Die gelowige se stryd teen die bose lê ook ten grondslag van Ef 1:21-22 as daar staan dat God alle mag en gesag, krag en heerskappy aan Christus onderwerp het (kyk ook Kol 2:10). Hoewel hierdie magte gewone aardse heersers of owerhede kon wees, dui dit ook op menslike owerhede in die greep van die bose. Die Romeinse Ryk is byvoorbeeld deur sommige Bybelskrywers as ’n werktuig van die bose beskou, spesifiek in die Openbaringboek (vgl Op 18: Babilon = Rome). Ons tref dus in die Nuwe Testament ’n verskeidenheid van gedagtes aan wat die bose lokaliseer in afgesonderde plekke, onder die aarde, in die lug en in sommige aardse owerhede.

Op hierdie punt kan ons begin saamvat om ons vraagsteller se vraag te beantwoord. Die wêreld waarin die eerste Christene geleef het, was gevul met die godsdienstige konsepte wat veral uit die Jodedom, maar ook uit die Griekse wêreld aan hulle bekend was. Hiervolgens is dit inderdaad so dat die hemel en aarde ’n komplekse samestelling gehad het; dit het uit verskillende vlakke bestaan. Die fisiese bestaan was maar net een vlak van die totale werklikheid. God en sy engele, en daarby nog Satan en sy demoniese magte, het ook hierdie werklikheid gevul. Satan en sy magte was veral gelokaliseer in die onderaardse diepte en onherbergsame plekke, maar ook “in die lug”. God en sy heilige engele het weer die verskillende hemele bewoon. Daar was verskeie voorstellings oor hoeveel hemele daar was (enigiets van 3 tot 10). Maar daar is nie ’n eenvormige prentjie oor waar ons almal en alles moet lokaliseer nie. Dit was nie ’n eenduidige sisteem van, sê nou maar, sewe hemele waar die eerste hemel deur demone bewoon is, die tweede deur engele, die derde deur ’n hoër kategorie engele, en dan so voort tot ons by God en die lewende wesens en 24 ouderlinge kom nie. Ons kan bloot sê dat daar ’n verskeidenheid van voorstellings was oor hoe die sigbare en onsigbare werklikheid saamgestel en bewoon is. Verder moet ook beklemtoon word dat hierdie voorstellings veral in die Jodedom voorgekom het. Uiteraard is die eerste Christene hierdeur beïnvloed, want dit was hulle leefwêreld. Maar dis veelseggend dat niks van die uitgebreide Joodse spekulasies oor die hoeveelheid hemele deur die Nuwe-Testamentiese skrywers oorgeneem is nie. Net hier en daar kry ons ’n glimps daarvan. Dis asof die Bybelskrywers hierdie spekulasies doelbewus vermy het, wat vir ons ’n goeie aanduiding is dat ons nie te veel hieruit moet aflei of oorneem nie.

Die vraag is nou hoe ons uit al hierdie godsdienshistoriese voorstellings sin moet maak vir ons wêreld vandag. En dit bring ons by die volgende afdeling, die teologiese.

Teologies

Met “teologies” word bedoel dat ons gesagvolle antwoorde soek vir vandag oor wat ons moet glo en hoe ons moet lewe. Dit behoort uit die godsdienshistoriese oorsig hierbo duidelik te wees dat ons nie alles wat destyds aanvaar is omtrent die samestelling van die kosmos net so heelhuids kan oordra na vandag nie. Ons is kinders van ons eie tyd, en sedert Bybelse tye het daar baie ontwikkelinge op die wye terrein van die wetenskap – spesifiek ook die Bybelse wetenskap – plaasgevind wat ’n rol moet speel in hoe ons vandag oor die samestelling van die kosmos en spesifiek die geesteswêreld dink. Hoe moet ons uit die verskeidenheid van voorstellings oor die destydse ordening van die geesteswêreld sin maak vir vandag? Die volgende insigte kan as riglyn dien.

Ons hoef nie vas te val in voorstellings van hoeveel hemele daar was en hoe en deur wie hulle bewoon is nie. Dit is voorstellings wat voortgevloei het uit destydse insigte, maar wat nie noodwendig normatief vir vandag geld nie. Die normatiewe of gesagvolle van die Bybel lê nie primêr in die godsdienshistoriese voorstellings nie. Wat ons wel as steeds gesagvol kan aanvaar, is dat daar ’n geestelike wêreld is wat die fisiese onderlê, dat wat ons met ons normale sintuie kan waarneem eintlik maar net ’n fraksie van die werklikheid is. Dit is die een gedagte wat die Bybel onteenseglik aan ons wil oordra en waaraan ons moet vashou. As ons hierdie perspektief prysgee, gee ons iets wesenlik prys. Dis nie om dowe neute nie dat die Bybel boordensvol is met visies op ’n “ander wêreld” wat nie net as werklik ervaar word nie, maar wat ook ons denke en optrede in die alledaagse werklikheid grondig beïnvloed en vorm. Dink aan Jakob wat ’n visioen het van engele wat op en af beweeg tussen hemel en aarde (Gen 28:12-17), engele wat aan mense verskyn (bv Gen 18; Matt 1:20-23; Luk 1:26-27), die Here wat die oë van Elisa se slaaf open om te sien dat hulle omring is van hemelse perde en strydwaens van vuur wat hulle beskerm teen die vyand (2 Kon 6:17), profetiese vergesigte van toekomstige gebeure en van ’n Redder wat sal kom (bv Sag 3:8; 9:9-10), Petrus wat ’n visioen het waar hy op ’n dakstoep besig is om te bid (Hand 10:10-16), die dissipels en later Paulus wat ontmoetings het met die opgestane Here Jesus (Joh 20:19-29; Hand 9:3-6), en die hele Openbaringboek wat uit een majestieuse visioen bestaan van ’n hemelse wêreld wat ons huidige wêreld oorspan, rig en stuur. En so kan mens die voorbeelde vermenigvuldig; daar is omtrent nie ’n bladsy in die Bybel waar die bo-sintuiglike wêreld nie ter sprake kom nie. Trouens, dis die hele perspektief waaruit die Bybel geskryf is. Sonder erkenning van hierdie perspektief word die hele betekenis van die Bybel betekenisloos. Ja, ons hoef nie al die inkledings van die destydse beskrywings te aanvaar nie, maar die transendente (bo-aardse) perspektief durf ons nie prysgee nie. Daar ís ’n geestelike werklikheid wat nie so direk voor oë is nie maar wat ons sigbare werklikheid transendeer (te bowe gaan), onderlê en deurkruis. Wie oog hiervoor kry, weet dat ons sigbare werklikheid deur die transendente God in aansyn geroep is, en steeds onderhou en na sy voltooiing gevoer word. Dít is die belangrike perspektief wat die Bybel leer en waaraan ons moet vashou. Hoe presies hierdie onsigbare werklikheid saamgestel is, weet ons gewoon nie. Die Bybel is baie suinig met informasie hieroor. En waar dit oënskynlik wel detail-inligting deurgee, soos in die Openbaringboek, moet dit meesal simbolies verstaan word. Die voorstellings moet dus nie die fokus van ons aandag wees nie. Waarop ons wel moet fokus, is dat ons ten diepste leef uit God se wêreld, ’n wêreld wat weliswaar onsigbaar maar vir seker wérklik is en wat ons lewe hier op aarde rig en lei. Deur die geloof kry ons deel aan hierdie onsigbare wêreld – vir tyd en ewigheid.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl