Volg My (2)

 

Where truth is denied, only therapy remains – Al Mohler

 

Volg My (2)

David Platt het ‘n kort boekie: What did Jesus really mean when He said: Follow me? geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie boekie spandeer.

 

Sonde is nie tot een of twee dinge beperk nie – dit gaan na die kern van wie ons is en maak dit vir ons onmoontlik om na God te draai op ons eie. Dit is wat die Bybel bedoel as hy sê dat ons dood in ons sonde is. Volledig dood.

 

As sonde ons probleem is en as ons dood is as gevolg daarvan, wat beteken dit? Hoe kan ons onsself help? Onmoontlik. In jou dood het jy iemand buite jouself nodig om jou te help. Dit is presies wat Jesus gedoen het.

 

Jesus het gekom om die lewe te leef wat ons nie kon leef nie (‘n lewe sonder sonde) en om die dood te sterf wat ons as sondaars verdien het om te sterf. Jesus het gekom om die heilige toorn van God wat ons as sondaars verdien, te verduur. Ons sonde bestaan nie buite ons nie – dit is in die kern van ons wese. Ons sondig nie net nie, ons bestaan as sondaars. Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het Hy nie net vir ons sonde gesterf nie – Hy het die straf wat ons as sondaars verdien, betaal. Hy sterf in ons plek – vir ons. Hy verduur die volle straf wat ons as sondaars verdien het.

 

Almal van ons is sondaars. God is heilig en sy toorn teen sonde en sondaars is geregverdig. Maar God is ook genadig en het ‘n heilige liefde vir sondaars. Hoe kan God dan heilige toorn en heilige liefde teenoor sondaars bewys? Die antwoord is: die kruis van Jesus Christus. Daar sien ons die volle uitdrukking van God se toorn en sy liefde.

 

Hierdie reiniging van sondaars is ‘n gawe van God en berus nie op ons meriete nie. Ons word nie gered oor die dinge wat ons gedoen het nie, maar slegs deur sy genade. Geloof is Christus alleen is die enigste manier om van sonde gereinig te word. Daar is niks wat ons kan doen behalwe om te vertrou op dit wat reeds in die lewe, dood en opstanding van Jesus Christus gedoen is nie. Geloof is die besef dat God se aanvaarding van jou nooit van jou prestasies afhanklik is nie. Dit berus altyd op wat Christus vir jou gedoen het.

 

Volgende keer gaan ons kyk na hoe ek ‘n volgeling van Jesus word.