Volg My (7)

 

Prayer is not overcoming God’s reluctance. It is laying hold of his willingness –  George Mueller

 

Volg My (7)

David Platt het ‘n kort boekie: What did Jesus really mean when He said: Follow me? geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie boekie spandeer.

 

As ons volgelinge van Jesus word, kom daar ‘n breek met ons ou lewenswyse en ons volg ‘n nuwe lewenswyse. Soos Christus in ons begin leef, begin alles verander. Ons denke verander – ons besef wie God is en wat Jesus gedoen het en hoeveel ons Hom nodig het. Ons begeertes verander – die wêreldse dinge wat ons eenmaal liefgehad het, haat ons nou; die dinge van God wat ons eenmaal gehaat het, het ons nou lief. Ons wil verander – ons gaan waarheen Jesus sê en doen wat Hy ons beveel. Ons verhoudings verander – ons lê ons lewens in liefde vir mekaar af. Ons rede om te leef verander – besittings en posisie is nie meer belangrik nie. Ons wil God se heerlikheid sien.

 

As ons Christus volledig volg, sal ons sy kerk liefhê. Op die pad na Damaskus vra Christus vir Saulus waarom hy Hom vervolg het. Saulus het nie vir Jesus nie, maar die kerk vervolg. Jesus identifiseer Hom hier met die kerk. Mense leef vandag geïsoleerd van mekaar. Maar dit is nie hoe God op ons reageer nie. Ten spyte van ons sonde agtervolg Hy ons steeds. Soek ons nie mense wat ons lief genoeg het om na ons om te sien as ons op die pad van sonde loop nie? God bring sy kinders bymekaar in ‘n geloofsgemeenskap. Hierdie gemeenskap aanbid gereeld, dien mekaar, pas mekaar op, gee vir mekaar en sorg vir mekaar.

 

In die kerk behoort volgelinge van Christus aan mekaar en sorg vir mekaar op so ‘n manier dat hulle verantwoordelikheid vir mekaar aanvaar. Hierdie gemeenskap behels meer as om een maal per week langs mekaar te staan en ‘n paar liedere saam te sing. Dit beteken ons besef dat ons vir mekaar verantwoordelik is om as dissipels te groei. As ons ons lewens vir mekaar in die kerk aflê, illustreer ons God se liefde vir mense. Jesus het gesê dat die mense sy dissipels sal herken weens hulle liefde vir mekaar. Die kerk is Jesus se bruid gekoop deur sy bloed. Dit is ‘n voorreg om aan so ‘n gemeenskap te behoort. Dit is prakties onmoontlik om ‘n dissipel van Christus te wees sonder totale toewyding aan die familie van Christene.

 

Maar dit is nie net die kerk wat verander nie – die wêreld verander ook. Daarna kyk ons volgende keer.