Voorkomende Geneeskunde in die Bybel (1)

Voorkomende Geneeskunde in die Bybel (1) – Coen Slabber

In die 19de eeu sterf een uit elke vier vrouens tydens of na geboorte – meestal as gevolg van kraambedkoors.

Philip Ignaz Semmelweis verminder die sterftes tot onder 1%. Hoe? Deur sy hande te was. Destyds het die geneesheer van die lykshuis waar hy ʼn nadoodse ondersoek gedoen het, na die kraamsaal geloop waar hy ʼn bevalling gedoen het, na ʼn huis geloop om ʼn sieke daar te sien – sonder om ooit sy hande te was. Die tragedie is dat die Wet van Moses voorskrifte bevat wat, as dit nagevolg was, die sterftesyfer aansienlik sou laat daal het.

Israel het vroeg reeds die wette van voorkomende geneeskunde en higiëne nagekom. God het immers hierdie wette aan hulle gegee. Hulle het besef dat as hulle ʼn groot volk wou word, hulle ʼn gesonde volk moes wees.

Kom ons kyk na enkele aspekte uit die Wet wat besliste mediese implikasies gehad het.

 

1. Die voorkoming van die verspreiding van infeksies

As die Bybel praat van onrein verwys dit meestal na die persoon se godsdienstige status, maar dit dek ook wat ons vandag aansteeklike siektes noem. Die klem val op die was van gekontamineerde klere – die persoon moes sy klere was en hom bad (Levitikus 15:8). Dit geld vir die persoon wat self onrein is, maar selfs vir ʼn persoon wat op iets sit waarop die onrein man gesit het.  Daar was ook ʼn voorgeskrewe wagtydperk voor so ʼn persoon wat genees is, rein verklaar kon word – gewoonlik moes hy sewe dae wag en dan sy klere was en homself in lopende water bad (Levitikus 15:13). Al hierdie maatreëls verminder die risiko van verspreiding van die siekte.

 

2. Dieet

Almal weet van die verbod op die eet van varkvleis. In Levitikus 11 lees ons van watter kosse rein en watter kosse onrein is. Rein diere is gewoonlik die grasvreters en herkouers.

Die eet van roofdiere en roofvoëls was verbied. Hierdie diere eet ander voëls en diere – dikwels diere en voëls wat reeds gevrek het. So kan siektes baie maklik oorgedra word. Baie siektes (soos lintwurm) kan deur varkvleis oorgedra word. Dit is interessant dat meeste van hierdie diere (met die uitsondering van varkvleis) ook nie vandag geëet word nie. Vleis was maar ʼn klein deel van hulle dieet. Hulle het ook baie olyfolie gebruik om mee te kook. Olyfolie het min versadigde vetsure.

In Levitikus 3:17 lees ons: Julle mag geen vet of bloed eet nie. Bloed bevat dikwels organismes wat siektes kan veroorsaak. Die res van die dier word gekook of gebraai wat baie van die organismes sou doodmaak.

Die higiëne van kos was ook belangrik vir die Israeliete. Daar was reëls om voedselvergiftiging te verhoed. Ons moet onthou daar was geen yskaste nie en dat dit baie warm word in die Midde-Ooste. Daarom was daar beperkings op hoe lank kos gebêre mag word (Levitikus 19:5 – 7):

5“Wanneer julle ‘n maaltydoffer vir My, die Here, slag, moet julle dit so doen dat julle vir My aanneemlik is: 6julle moet die vleis eet op die dag wanneer julle slag, of hoogstens die volgende dag. Wat oorbly tot die derde dag, moet verbrand word. 7Wie daarvan op die derde dag eet, eet iets onreins. Dit is nie vir My aanneemlik nie.

Kleipotte was poreus en kon nie goed skoongemaak word nie. Daarom moet hulle gebreek word as hulle onrein is (Levitikus 15:12):

12Alle kleipotte waaraan die man raak wat die afskeiding het, moet gebreek word, maar gebruiksartikels van hout moet afgespoel word.

Ook word voorsiening gemaak oor dooie diertjies wat in aanraking kom met eetgoed (Levitikus 11:32 – 34):

32Enigiets waarop so ‘n dooie diertjie val, is ook onrein. Dit geld vir enige gebruiksartikel van hout, lap, leer of growwe linne, enige gewone gebruiksartikel. Dit moet in water gedruk word, maar is nog vir die res van die dag onrein. Eers daarna is dit rein. 33As een van die diertjies in ‘n kleipot val, is alles wat in die pot is, onrein. Die pot moet dan gebreek word, 34want enige kos waarby water uit so ‘n pot gegooi is, is onrein, en enige vloeistof uit so ‘n pot is onrein. 35Enigiets waarop een so ‘n dooie diertjie val, is onrein. ‘n Kleioond of kleikookplek moet in so ‘n geval afgebreek word; dit het onrein geword, en julle moet dit as onrein beskou.

Skoon houers en skoon eetgerei verminder die risiko van voedselvergiftiging.

 

3. Moeders wat pas geboorte gegee het

As ʼn vrou geboorte geskenk het, is sy onrein. In gevalle waar die kind ʼn seuntjie is, word hy op die agste dag besny en daarna moet sy nog drie en dertig dae wag om seker te wees dat die bloedvloeiing opklaar (Levitikus 12:4). [As die baba egter ʼn dogtertjie is word die tydperk tot twee weke plus 66 dae verleng.] Hierdie is genoeg tyd om seker te maak dat sy nie ʼn infeksie onder lede het nie. Dit gaan hier oor reinheid en rus vir die vrou.

 

4. Aanraking van dooies

Iemand wat aan die lyk van ʼn mens raak, sal sewe dae lank onrein wees (Numeri 19:11). Hierdie is ʼn voorsorgmaatreël indien die persoon aan ʼn aansteeklike siekte dood is.

Outeur: Dr Coen Slabber