Voorwaarts Christen stryders

 —C.H. Spurgeon

Voorwaarts Christen stryders

Eerwaarde Sabine Baring-Gould was die hulp-predikant van ‘n gemeente in Yorkshire in die noorde van Engeland. Dit was Paasmaandag, ‘n groot dag vir skoolfeeste in Yorkshire. Die plaaslike skool sou kragte met ‘n naburige skool saamsnoer. Die eerwaarde wou hê dat die kinders iets moes sing soos hulle van die een dorpie na die ander gestap het. Daardie nag bly hy wakker en skryf – Voorwaarts Christenstryders was die resultaat.

 

Dit was nooit vir publikasie bedoel nie, maar word gou in Engelse liedboeke ingesluit. In die VSA was dit besonder gewild, want dit was net na die Amerikaanse Burgeroorlog. In 1871 skryf Arthur Sullivan die melodie “St. Gertrude” vir die lied wat dit nog meer gewild gemaak het.

As gevolg van sy militaristiese tema en melodie kry die lied teenstand  – sekere kerkgenootskappe verwyder dit uit hulle liedboeke. Ons moet net onthou dat Paulus aan Timoteus gesê het: Dra jou deel van die ontberings soos ‘n goeie soldaat van Jesus Christus (2 Timoteus 2:3). In die Efesiër-brief waarsku hy die kerk: Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel (6:17).

Die woorde van die lied maak dit baie duidelik dat die fokus op ‘n geestelike stryd val – ons vyand is die duiwel en nie mense nie; ons Opperbevelhebber is Christus wie se koninkryk nie kan misluk nie. Ek hou van die weergawe in die Liedboek van die Kerk (Lied 513):

Soek in God jou sterkte; kry by Hom jou krag;

Met sy wapenrusting klee Hy ons met mag …