Vrae

Vrae

Kinders peper mense met vrae – veral net voor hulle skoolouderdom bereik. Hulle leer egter gou dat te veel vra lei tot: “Want ek het so gesê!” Daarom leer meeste van ons om minder vrae te vra. Soos kinders is mense wat pas tot geloof gekom het ook nuuskierig. Soos kinders beperk hulle gou hulle vrae, want die antwoord op hulle vrae is: “Maar ons het dit nog altyd so gedoen!”

 

Ons kla gedurig dat die kerk in die moderne wêreld irrelevant geword het. Een metode om hierdie probleem te oorbrug, is deur goeie antwoorde op goeie vrae te gee. As iemand vrae vra oor ‘n praktyk of idee beteken dit nie dat hy die waarde daarvan betwyfel nie. Maar om te praat waarom ons doen wat ons doen en glo wat ons glo, is vir ons van groot waarde. Hoekom?

  • Dit help ons om weer aan ons doel te dink. Hoekom is die kerk hier? Hoekom het ons al die bedienings? Moet ons nie sekere dinge los en eerder op ander konsentreer nie?
  • Ons sien hoe dinge met mekaar verbind op maniere wat ons nie vantevore raakgesien het nie.

Ons doel is om die wil van God te doen – as individue en as gemeente van Christus. Moeilike vrae laat ons dink aan die verband (of gebrek aan verband) tussen God se wil en ons planne.