Vreugde vir gelowiges uit alle nasies; oordeel vir ongelowiges (66:18-24) – Francois Malan

66:18-21 is ‘n blik op die Here se toekomsvisie, die vestiging van sy alleenheerskappy. Dit word in prosa aangebied.

66:18 Die Here kom om bymekaar te maak. Die Here wat die nie-Israeliete, ontmandes en verstrooides van Israel bymekaar maak (56:1-8) sal al die nasies en al die tonge (taalgroepe) bymekaarmaak om almal onder sy koningsheerskappy te buig en sy heerlikheid te sien. Hy ken elke mens se werke en gedagtes. Die ‘hulle’ verwys waarskynlik na die oortreders van vers 17, maar volgens 62:11 kom Hy ook om die getroues te red. Dit gaan ook nie net oor die getroues in Israel nie, maar gelowiges uit al die nasies. Gelowiges en ongelowiges sal sy heerlikheid sien. Vir gelowiges tot vreugde. Vir ongelowiges tot uitsluiting.

66:19 En Ek plaas ‘n teken op hulle – ‘n teken van sy oordeel, soos op Kain (Gen 4:15) en ‘n kenteken van sy eienaarskap op sy toegewydes, soos die bloed op die kosyne in Egipte (Eks 12:13). Uit dié wat die oordeel ontsnap het stuur die Here sendelinge na die nasies toe, soos op Pinksterdag (Hand 1:8); Tarsis in die verre weste (in Spanje?), Pul en Lud in die suide (in Afrika), Tubal in die noorde (Kaukasus), Javan (Griekeland), ver eilande (gesien as die verste plekke) – om die hele wêreld as hulle sendingveld aan te dui (vgl. Hand 1:8 tot in die uithoeke van die wêreld). Hulle moet die Here se heerlikheid onder die nasies gaan verkondig, dat die ewige God by die nederiges en berouvolles is (57:15). Reeds in 40:5 het die Here gesê: al wat leef (alle vlees) sal die heerlikheid van die Here sien. Dit was sy doel met die terugkeer van die ballinge van die begin af.

66:20 Die sendelinge sal al ‘julle broers uit al die nasies bring as ‘n offer aan die Here – die woord broer word gebruik vir bloedbroers, stamgenote, geloofsgenote, ens. Dit kan verwys na die Jode in die verstrooiing, maar die ‘uit al die nasies’ lyk meer na geloofsgenote wat gebring word na ‘my heilige berg Jerusalem’- waar die offers gebring word sedert die Here ‘n offerlam vir Abraham en Isak op Moria voorsien het (Gen 22:2,8,13-14; op Moria het Salomo die tempel gebou, 2 Kron 3:1) – en Jesus is op Golgota buite Jerusalem gekruisig vir die sonde van die wêreld as God se offerlam wat al die vorige offers vervang (Joh 1:29; 1 Kor 5:7). Die profeet-skrywer sien ‘n groot rituele optog van mense met alle soorte vervoer denkbaar om hulle aan die Here te gaan onderwerp. Hulle word as gereinigdes in die tempel ingebring soos die Israeliete hulle offerande in ‘n skoon skottel in die huis van die Here inbring (1 Joh 1:7 die bloed van Jesus reinig ons van elke sonde; Joh 15:3 Julle is reeds skoongesnoei (- 1983vertaling: reg gesnoei – deur die woorde wat Ek vir julle gesê het).

66:21 ‘En Ek sal ook uit hulle neem as priesters en Leviete, sê die Here’ – uit die heidennasies wat gereinig na Jerusalem kom sal die Here priesters aanstel om die Jode se heilige offers te bring en uit die nasies Leviete aanstel om die Joodse wet uit te lê vir die nuwe volk van die Here. Die tempel sal waarlik ‘n huis van gebed vir al die volke word (Jes 56:7 aangehaal in Mat 21:13; Mark 11:17; Luk 19:46), soos die Here al aan Abraham belowe het (Gen 12:3 in jou sal al die volke van die aarde geseën wees).

66:22 In die laaste drie verse van die boek (22-24) word temas wat voeër uitgewerk is, herhaal. Die leser word herinner aan die nuwe hemel en die nuwe aarde wat die Here sal maak (65:17), die  heerlike visie van die Here se nuwe skepping waar Hy alleen sal regeer oor ‘n ten volle geneesde samelewing en heelal. Aan hulle nageslag verbind Hy die erenaam Israel (letterlik: jou saad en jou naam; vgl. Gal 6:16; Rom 11:25-26). Aan die uitverkorenes, die nuwe verbondsgemeenskap, word hulle voortbestaan en hulle diens as dienaars van die Here gewaarborg as deel van  die voortbestaan van die nuwe hemel en die nuwe aarde. Die Nuwe Testament se ewige lewe word nog nie hier uitgespel as ’n nuwe lewe waarin God nou reeds in die gelowige woning maak en wat tot in ewigheid duur nie, maar hier word aan die nuwe Israel se samelewing ‘n voortbestaan deur hulle nageslag belowe. Dit is egter ‘n profesie wat in Jesus se oorwinning oor die sonde en die dood en die gawe van die ewige lewe ten volle gerealiseer word (Joh 10:27-29; 1 Petr 1:3-4,23).

66:23 Die vers herhaal die groot inklusiewe visie van verse 18-21 dat alle vlees, alle volke, nasies en tale welkom is in die erediens. Vers 21 sluit gelowiges uit die nasies in om selfs die leiers te word by die feeste van die Jode. ‘Van ‘n nuwe maan tot sy nuwe maan’ – beteken elke dag van die maand, ‘en van ‘n sabbat tot sy sabbat’ – elke dag van die week, ‘sal alle vlees kom om hulle neer te buig voor My, sê die Here’ (vgl. Sagaria 14:16). Dit veronderstel die Here se blywende teenwoordigheid en die doel van aanbidding is om sy teenwoordigheid op te soek by alles wat jy dink en sê en doen. In Mat 28:20 belowe Jesus: ‘En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld (vgl. Haggai 1:13). Joh 14:16: die Vader sal vir julle ‘n ander Parakleet (voorspraak, pleitbesorger, trooster, helper) gee sodat Hy vir ewig by julle kan wees; Joh 14:23: As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.

66:24 Wanneer hulle uitgaan (uit die stad Jerusalem) sal hulle die lyke sien van die mense wat teen die Here gerebelleer het, want hulle wurm (wat eindeloos aan hulle liggaam vreet) sal nie vrek nie, en hulle vuur (in hulle binneste) sal nie geblus word nie; en hulle sal ‘n afsku wees vir alle vlees’ – die woord afsku word nog net in Dan 12:2 in die OT gebruik. Die boek sluit af met ‘n ernstige waarskuwing teen enige rebellie teen God, want dit lei tot ‘n ewige verdoemenis wat geen end het nie, en ‘n volle skeiding tussen die dienaars van die Here en sy vyande (vgl. Lk 16:26). Die skeiding maak die stad oop vir die pelgrims uit die nasies om die Here te kom aanbid. Die boek met sy blye boodskap van verlossing is ook ‘n woord van oordeel oor dié wat nie by Hom redding soek nie, nie sy uitnodiging tot die gratis oorvloed van Jes 55 aanvaar nie (vgl. Jes 1:18-20).

[In een van die Hebreeuse manuskripte van Jesaja het die skrywer ‘n nota aangebring dat vers 23 na vers 24 herhaal moet wanneer die boek in die sinagoge gelees word, om so die gif van vers 24 te oorkom]

Die finale woorde van die boek Jesaja vertoon ‘n diepgaande spanning tussen grootmoedige inklusiwiteit in Israel wat mense uit alle nasies insluit in die geloofsgemeenskap en ‘n intense gevoel van eksklusiwiteit wat alle ander nasies en afwykings wegwys. Dit het ook in die vroegste kerk al kop uitgesteek met die klag van die Griekssprekende Jode teen die Arameessprekende Jode omdat hulle weduwees in die daaglikse versorging oor die hoof gesien is (Hand 6:1), in Petrus se reaksie op die groot linnedoek vol onrein diere wat hy moes slag (Hand 10:14) en dat hy hom toe moes verweer teen die ander apostels en Joodse Christene omdat hy saam met onbesnede mans geëet het (Hand 11:1-3). Paulus moes vir Petrus en Barnabas skerp teregwys omdat hulle eers saam met die heidene geëet het, maar toe Jerusalem-mense van Jakobus daar in Antiogië aankom, het hulle hulle teruggetrek en afgesonder van die christene uit die heidendom (Gal 2:11-16).

Paulus het gesê: Daar is nou nie meer Jood of Griek (nie-Jode) nie, nie meer slaaf of vryman, nie meer man of vrou nie, want julle almal is één in Christus Jesus (Gal 3:28; Kol 3:11).

Jesus het gebid: Vader, Ek bid dat hulle almal een kan wees, net soos U, Vader, in My en Ek in U; en dat hulle ook in Ons kan wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. En Ek het die heerlikheid wat U aan My gegee het, aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is: Ek in hulle en U in My, sodat hulle volledig een kan wees en die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefgehad het, net soos U My liefgehad het…sodat die liefde waarmee U My liefgehad het in hulle kan wees en Ek in hulle.’ (Joh 17:20-23,26b).

Skrywer:  Prof Francois Malan