Vroue in die Pauliniese gemeentes

Vroue in die Pauliniese gemeentes – Francois Malan

Tersia vra:

Wil graag u verklaring hoor van 1 Timoteus 2 vr 11-15. Is dit nog van pas in vandag se tyd? Hoekom was dit so bepaal in die Bybelse tyd.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Die benaderings tot die verklaring van die verse kan in drie hoofgroepe verdeel word:

Die tradisionele hiërargiese verklaring wat vroue verbied om mans in die gemeente se samekoms te onderrig op grond van die skeppingsordinansies wat vir die hele kerk vir altyd geld.

Die feministiese rekonstruksie van die vroeë kerk wat hierdie tipe tekse nie as maatstaf aanvaar nie, omdat dit die toepassing van die mens se bevryding wat Paulus se evangelie verkondig belemmer, en daarom geskrap moet word.

Die derde groep begin by Paulus se stellings oor die gelykwaardigheid van man en vrou, en sien hierdie tekse as ‘n uitsondering wat aan ‘n spesifieke gemeente vir ‘n spesifieke tyd se probleme aanwysings gee. In 1 Timoteus waarsku Paulus juis teen ‘n valse leer wat sy kop uitgesteek het in die gemeente van Efese, waar Timoteus leiding moet gee. (Die derde verklaring word hieronder kortliks verduidelik)

1 Paulus se stellings oor die gelykwaardigheid van gelowiges

In hoofstuk 12 oor die verskillende gawes van die Gees vergelyk hy die gemeente met ‘n liggaam: Want soos die liggaam ‘n eenheid is maar uit baie ledemate bestaan, en al die ledemate van die liggaam, alhoewel hulle baie is, een liggaam vorm, so is dit ook met Christus. En ons is tog almal deur die een Gees gedoop in een liggaam – Jode of Grieke, slawe of vrymense – en ons is almal met een Gees deurdrenk (12:12-13).

In die brief aan die Kolossense, geskryf tussen 60 en 62 n.C., sê Paulus: By die nuwe mens, wat tot volle kennis en na die beeld van die Skepper vernuwe word, is daar nie onderskeidings soos Griek of Jood, besnedene of onbesnedene, barbaar (nie-Grieke) of selfs Skittiër (‘n volk wat destyds die toonbeeld van onbeskaafdheid was), slaaf of vry persoon nie, maar Christus is alles en in almal (3:10-11).

2 Vroue in die Pauliniese gemeentes

Volgens Handelinge18:26 het Paulus se vriende (vgl. 18:1-3,18), die vrou Priscilla en haar man Akwila, vir die prediker Apollos na hulle huis toe geneem en vir hom die Weg van God nog duideliker uiteengesit. Volgens Romeine 16:3-5, waar Priska ook eerste genoem word, was daar later ‘n huisgemeente in hulle huis, waar hulle die leiding sou geneem het.

Junia en haar man Andronikus in Romeine 16:7 was medegevangenes van Paulus. Hulle het reeds voor Paulus een met Christus geword, en is hoog aangeskrewe by die apostels.

3 Moontlike spesifieke probleme in die gemeente Efese wat in 1 Tim 2 aangespreek word (waarskynlik in 62-63 n.C. geskryf).

Volgens 1 Tim 1:3 was daar ook mense wat vreemde leringe versprei het in die gemeente (vgl. 6:20-21). In 2 Timoteus 2:18-19 word verduidelik dat hulle sê dat die opstanding reeds plaasgevind het en dit het tot ongeregtigheid gelei. Hulle is in die strik van die duiwel gevange gehou om sy wil uit te voer (2 Tim 2:26). 1 Tim 4:1-3 sê die afvalliges verhinder mense om te trou en laat hulle sekere kossoorte vermy. In 1 Tim 5:11-15 word dan ook verwys na jong weduwees wat deur die valse leraars veroordeel word as hulle weer wil trou en ander wat weggelok word om met ongelowiges te trou. Die verbod op vroue om in die gemeente onderrig te gee of hulle mans te domineer (2:12) is miskien die gevolg van hulle verkondiging van hierdie vals leer.

4 Toepassing van die gelykheidsuitsprake

Verlossing is ‘n proses wat progressief in elkeen se lewe moet deurwerk. In 2 Kor 3:18 skryf Paulus: ‘En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here aanskou soos in ‘n spieël (of: om dit te weerspieël), word na dieselfde beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid, soos afkomstig van die Here, die Gees.’ So behaal ons oorwinning oor sonde en ou gewoontes en gebruike, en groei ons om al meer soos Jesus te word. Maar die finale oorwinning oor sonde vind eers met die opstanding plaas. So gaan dit ook in die kerk en samelewing.

 

Prof Francois Malan