Vryheid (1)

 

If Christ is risen – then nothing else matters. And if Christ is not risen – then nothing else matters – Jaroslav Peilkan

 

Vryheid (1)

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

Mense wat vooruitgang in ons samelewing meet, sal dikwels vryheid as maatstaf gebruik. Die mens het nog altyd baie waarde aan vryheid geheg. Vandag glo die wêreld dat die mens die reg het om te kan kies. Volgens hulle is die grootste sonde onverdraagsaamheid. Die postmoderne mens sê dat ons vry is, want daar is geen kosmiese orde, geen waarheid en geen absolutes is waarvoor ons moet buig nie. In baie samelewings word die Christendom vandag as die aartsvyand gesien.

 

Is dit waar? Moet ons tussen vryheid en geloof in God kies? Die antwoord is ja, maar nee. Sit ons nie nou op die draad nie? Nee. Waar – die ideaal van individuele vryheid het oneindig goed gedoen in ons samelewings. Dit het tot ‘n meer regverdige samelewing vir minderhede en vroue gelei. Maar ook vals: vryheid word vandag gedefinieer as die afwesigheid van enige beperkings op ons. Hoe minder grense vir ons keuses en optrede, hoe vryer is ons. Hierdie siening is verkeerd en rig skade aan.

 

Moderne vryheid is die vryheid om jou te alle tye self te handhaaf – ek is vry om te doen net wat ek wil. Dit is onmoontlik. Wat gebeur as wat jy wil hê in konflik met mekaar is? Daar is ontelbare vryhede in die lewe, maar niemand kan hulle almal hê nie. Soms moet ons sekere vryhede opoffer vir ander vryhede. ‘n Diabeet moet sy vryheid om soetgoed te eet, prysgee vir sy gesondheid. Die vraag wat ons moet vra, is: Watter vryheid is die belangrikste?

 

Ware vryheid behels die strategiese verlies aan sekere vryhede om ander vryhede te verkry. Vryheid beteken nie die afwesigheid van beperkings nie, maar dit is die keuse van die regte beperkings – ek verloor die regte vryhede. Jy kies nie hierdie “regte” beperkings nie – jy onderwerp jou aan hulle. Mense floreer in sekere omgewings, maar nie in ander nie. As jy nie die beperkings van jou liggaam aanvaar nie, sal jy nooit die vryheid van gesondheid ervaar nie.

 

Absolute individuele outonomie is onregverdig, want dit ontken dit wat ons aan ander skuld. As ons ander mense nodig het – en ons het – dan het ons sekere gedeelde verantwoordelikhede. Ons behoort nie net aan onsself nie. Ons behoort onvermydelik tot ‘n mate aan mekaar – geen mens is ‘n eiland op homself nie.

 

Vandag glo mense dat ons absolute vryheid het, solank as wat ons nie ander skade aandoen nie. Dit kan net werk as almal saamstem oor wat “skade” is. Hoe kan ons bepaal wat mense seermaak as ons nie definieer wat ‘n goeie lewe is nie. Daarom is waarde-oordele algemeen is ons samelewing.

 

Vryheid van keuse kan nie die enigste gids vir ons gedrag wees nie Ons het sekere morele norme en beperkings nodig as ons met ander wil saamleef.

 

In die volgende blog gaan ons verder na die probleme van absolute vryheid kyk.