Vryspraak en verlos

Vryspraak en verlos – Jan van der Watt

Andre vra:

Romeine 10:10: As jy glo spreek God jou vry, met mond bely word jy verlos. Vraag 1) is vryspreek en verlos nie dieselfde ding nie.2)Sominge predikers verkondig dat dit nie genoeg is om in jou binneste saam te stem/te aanvaar/te glo nie, jy moet dit spreek. Woorde het krag, Jesus het gespreek, sonder spreek kom niks tot realisering nie?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

In Rom 10:10 word twee sake parallel gestel op ‘n tipiese Joodse manier. Die 1953 vertaling wat nader aan die Grieks is as die 1983 vertaling sê:

met die hart           glo ons          tot geregtigheid en

met die mond        bely ons        tot redding

Dit beteken nie dat die sake soos geregtigheid en redding teenoor mekaar staan nie, maar dat dieselfde saak op twee maniere gestel word, wat mekaar natuurlik so ‘n bietjie aanvul ook.

Geregtigheid (dat jy regverdig verklaar is deur God en jou verhouding met Hom herstel is) is een manier waarop Paulus redding beskryf. Hy beskryf redding ook met ander beelde of terme soos loskoping of versoening. ‘Redding’ sou mens kon sê, is ’n breër term waarvan ‘geregtigheid ’n deel is.

Wat die verwysings na die hart en mond betref is daar ook ’n direkte verband. ‘Hart’ in die   Bybel is wat ons vandag ons ‘verstand’ of mentale vermoëns sou noem. Die persoon glo dus bewustelik met sy verstand in Jesus en sy boodskap; dan praat hy of sy daaroor met die mond. Dit is eintlik so iets soos ‘waar die hart van vol is, loop die mond van oor’; jy kan nie stilbly oor dit wat jy glo nie.

Ek is nie seker wat die konteks van die predikers is wat sê dat jy moet praat ook nie. Paulus sê dat as jy regtig glo jy dit nie binne sal hou nie, maar daaroor sal getuig, juis omdat dit vir jou so belangrik is. As die predikers egter bedoel (soos ek al gehoor het) dat die geloof nie eg is as jy nie heeltyd daaroor praat nie, is hulle nie reg nie. Dit is nie wat hier gesê word nie. Hier word die praat nie as voorwaarde vir die redding gestel nie, maar as deel van een proses wat by jou oortuiging in Jesus begin en maak dat jy ook graag daaroor sal wil praat.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt