Vryspraak

 

Until God reveals himself to us, we do not think that we are men, or rather, we think that we are gods; but when we have seen God, we then begin to feel and know what we are. – John Calvin

 

Vryspraak

In Galasiërs 2: 16 – 17 lees ons vier maal van vryspraak. Volgens Calvyn is vryspraak die skanier waarom alles draai. Maar wat beteken dit? Vryspraak is die genadige optrede van God waardeur God ‘n sondaar regverdig verklaar slegs deur geloof in Jesus Christus. Kom ons ontleed dit.

  • Vryspraak is die genadige optrede van God. Hoor my gebed, Here, luister tog na my smeking. U is getrou en regverdig, antwoord my tog! Moet tog nie ‘n regsaak teen my begin nie, want niemand wat leef is voor U onskuldig nie! (Psalm 143:1 – 2). Die psalmis besef dat almal skuldig staan voor God en dat daar niks is wat die mens kan doen om dit reg te stel nie. Vryspraak gaan oor genade en nie oor iets wat ek kan of moet doen nie.
  • Vryspraak is die genadige optrede van God waardeur Hy verklaar. Vryspraak is ‘n verklaring. Die beeld is dié van ‘n regter wat sy oordeel uitspel. Vryspraak is ‘n optrede en nie ‘n proses nie – ons is nie môre meer vrygespreek as vandag nie. As God sê vrygespreek, is ons vrygespreek vir altyd. Hierdie verklaring van God betrek ‘n sondaar. ‘n Skuldige man staan voor die heilige God. Paulus het sy hele lewe lank probeer om God se wet te gehoorsaam. Toe hy egter vir Jesus Christus ontmoet, besef hy dat hy nie goed is nie.
  • Vryspraak is waar God ‘n skuldige sondaar neem en hom onskuldig verklaar. Vryspraak is die teenoorgestelde van veroordeling. Dit sluit in God se eens en vir altyd vergifnis van sonde. Hoe is dit moontlik?
  • Vryspraak is deur geloof in Jesus Christus. God, die regverdige Regter neem die geregtigheid van Christus en krediteer dit op ons rekening as ons in Jesus Christus glo. Ons is skuldig; ons verdien die doodsvonnis, maar dit word aan Jesus Christus oorgedra. Hy dra God se heilige toorn aan die kruis. Ons word vrygespreek deur geloof in Jesus Christus – geen bydrae van ons kant nie.

 

Vryspraak beteken nie dat die sonde onder die mat ingevee word nie. Sonde het ‘n straf, maar dit is betaal.