Waar kom ek vandaan? – Jan van der Watt

Kobie vra:

Ek wil graag meer verstaan rondom my identiteit as Christen en waar ek vandaan kom. Ja ons weet ons is kinders van God – beteken dit dat ons “God se DNA” in ons het?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Dit is veral Johannes (in sy Evangelie – bv. 3:3, 5; en in sy Brief – bv. 1 Joh 2:29; 4:7; 5:1-2) wat baie klem lê op die feit dat ons kinders van God is omdat ons uit Hom gebore is (die Griekse woord in Joh 3:3, 5 kan met ‘gebore van bo’ of met ‘wedergeboorte’ vertaal word). Dit is 1 Joh 3:9 wat ons die beste help om die vraag van God se inwoning te beantwoord: ‘Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore’ (1933-53 vertaling). Hier word ‘n baie konkrete beeld rondom die proses van geboorte metafories of God toegepas.

‘n Kort verduideliking is nodig: In die tyd van die Bybel het die mense nie al die wetenskaplike kennis gehad wat ons vandag het nie. Hulle het maar geweet wat hulle kon sien. Hulle het gesien die baba groei in die vrou nadat sy by haar man was. Hulle het toe geredeneer dat die man se saad in die vrou groei soos gewone saad in ‘n land groei. Die mieliepit, het hulle geredeneer, dra die karakter van die plant wat gaan opkom en bepaal die natuur van die plant. Die land bied net die gunstige plek waar die mieliepit kan groei. So het hulle ook oor die menslike proses gedink. Die saad van die man dra die karakter en natuur van die kind tot die proses by, terwyl die vrou die ruimte bied vir die groei van die kind.

As Johannes nou sê dat ons God se saad in ons het, beteken dit dat ons God se karaktertrekke en natuur van liefde, regverdigheid, waarheid (alles woorde wat  Johannes gebruik) in ons het. Daarom sal ons nie wil sondig nie en ook nie ‘n lewe van sonde wil lewe nie, want ons is kinders van God wat sy karaktertrekke in die wêreld sal uitleef. Dit beteken dus nie dat die gelowige en God een word soos water en ink wat meng nie, maar dat God se karakter van liefde, waarheid, regverdig lewe ens. in ons lewens as kinders van God na vore gaan kom. Kobie se beeld van DNA (waar karaktertrekke van die pa en ma in die kind se DNA ingevleg is) lyk dus in die kol te wees.

Skrywer: Prof Jan van der Watt