Waardes

 

Don’t judge each day by the harvest you reap, but by the seeds you plant. –Robert Louis Stevenson (1850-1894)

 

Waardes

Waardes is waarhede wat ons gedrag rig en dryf. Ons maak geen kompromieë oor waardes nie – dit is waarhede wat nie debatteer word nie. Waardes plaas grense om ons gedrag.

 

Die skrywer van Psalm 15 openbaar waardegedrewe gedrag. Die persoon wat die teenwoordigheid van God geniet en onberispelik wandel, is die persoon wat met sy hele hart die waarheid praat (vers 2). Omdat hy dit doen, praat hy nie kwaad nie, doen nie sy medemens kwaad aan nie en beledig niemand nie (vers 3). Omdat hy die waarheid liefhet, hou hy sy woord – selfs tot sy eie skade. Hy doen ook nie die onskuldige tekort aan nie.

 

Leiers wat waardegedrewe is, sal volgens die psalmis nooit wankel nie. Ten spyte van wat om hulle gebeur, leef hulle met vertroue, want die regte waardes het hulle besluite gedryf.

 

Watter waardes dryf jou gedrag? Die wêreld se waardes word op die fondament van selfbelang en die omstandighede gebou. Dit is gewoonlik vlak en subjektief. Die Bybelse waardes weerspieël God se onveranderbare karakter.

 

Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart oor wees (Matteus 6:19 – 21).