Waarheen gaan jy as jy onder druk is?

 

Most people are brought to faith in Christ, not by argument for it, but by exposure to it. —Samuel Shoemaker

 

Waarheen gaan jy as jy onder druk is?

Elkeen van ons is ‘n leier op sy gebied – of dit nou van ‘n groot organisasie is of as ouers. Elke leier verkeer soms onder druk – druk om te presteer, druk om te slaag en vele ander. Elke leier as hy onder druk verkeer wil iewers gaan – al besef hy dit nie. Die vraag: Is jy bewus waarheen jy wil gaan as jy onder druk is? Party plekke is goed en help jou; ander is afbrekend. Kom ons kyk na Psalm 55.

 

Volgens die opskrif het Dawid die psalm geskryf. Hy verkeer onder groot druk: My sorge gee my geen rus nie … My hart krimp inmekaar in my, doodsangs oorval my (verse 3, 5). Wat was die eerste ding waaraan Dawid gedink het? Ek moet ontsnap: Ag as ek maar vlerke soos ‘n duif gehad het, sou ek wegvlieg en ‘n woonplek soek; ek sou ver wegvlieg en in die woestyn gaan bly (vers 7, 8). Daar kom ‘n tyd in die lewe van elke leier waar hy net wil wegvlug. Die sleutel is of jy weet waarheen om te vlug. Aanvanklik wou Dawid na die woestyn wegvlug.

 

Elke leier moet absoluut eerlik wees en vasstel waar sy woestyn is. Vir party is dit die woestyn van die sosiale media; vir ander is dit die woestyn van besig wees; vir ander is dit pornografie of dwelms. Dawid se eerste instink was om na die woestyn te vlug, maar hy besin homself. Maar ek roep na God, na die Here wat my sal red … Maar ek, op U vertrou ek (vers17 en 24).

 

Dawid het besef dat die enigste plek waarheen hy kon vlug was na God – hy vertrou op God. Waarheen vlug ons as die druk van leierskap op ons kwaai word?