Want as ek swak is, is ek sterk

 

Art is born when the temporary touches the eternal – G.K.Chesterton

 

Want as ek swak is, is ek sterk

Wat Paulus hier in 2 Korintiërs 12:10 sê, klink duidelik vir ons verkeerd. Hierdie vers sê nie dat swak beter is nie, maar dat swak sterker is. Hoe is dit moontlik? Dit gaan hier oor geestelik gesond/sterk. ‘n Belangrike aspek van geestelike gesondheid is om by ‘n punt te kom waar ons nie meer verder kan nie … en dan op God te vertrou. Ons beskou dinge wat ons tot stilstand ruk gewoonlik as ‘n vloek. Ons is emosioneel en geestelik gesond as ons God in die vloei van ons lewens kan raaksien – ook in daardie moeilike dae.

 

Die breë konteks van 2 Korintiërs 12:1 – 10 is dat ‘n groep vals apostels probeer om Paulus se posisie te ondermyn. In reaksie praat Paulus reguit oor homself, sy toewyding aan God se werk en ook oor sy kwesbaarheid. Op hierdie stadium was Paulus se gesondheid nie goed nie – hy verwys na ‘n doring in sy vlees. Paulus sien dit as ‘n aanslag van Satan. Herhaalde gebede bring geen verligting nie. Hy is egter bereid om God se antwoord te aanvaar: My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.

 

Kom ons kyk hoe maak Paulus vrede met sy swakheid.

 

Stadium 1: Vlug (verse 7 – 8)

Paulus se reaksie op sy swaarkry is natuurlik: vlug. Hy wil daarvan ontslae raak. Hy was immers ‘n doeltreffende apostel en om sy taak uit te voer, het hy goeie gesondheid nodig. Hy sou entoesiasties gebid het, want hy het al baie wonderwerke gesien. Genesing was seker. Hy besef gou dat hy volgehoue gebed nodig het. ‘n Tweede en derde gebedsessie volg – sonder sukses. God antwoord, maar die antwoord was nie juis welkom nie: My genade is vir jou genoeg.

 

God antwoord duidelik, maar Paulus hou nie juis van die antwoord nie. Ons hoor gewoonlik God se stem baie vinnig as hy vir ons vertel wat ons graag wil hoor. Dit is iets heeltemal anders as die antwoord moeilik is. Ons hoor dikwels net wat ons wil hoor. As God moeilike antwoorde gee, is ons reaksie gewoonlik of vlug of ontkenning.

 

Die beginsel is eenvoudig: Ons moet bereid wees om oor enigiets te bid, maar ons moet ook bereid wees om die antwoorde te aanvaar. Baie van die sogenaamde “ontbeantwoorde” gebede is gebede wat geantwoord is, maar ons hou nie van die antwoord nie.

 

Stadium 2: Aanvaarding (vers 9)

Ontkenning kan nie vir altyd duur nie. Paulus se doring in die vlees gaan nie weg nie. Paulus verander nou sy strategie van vlug en ontkenning na emosioneel gesonde geestelikhied. Nou kan ons ons kwesbaarheid as ‘n vriend sien. Dit is makliker gesê as gedoen. Ons kan net God se doel verstaan as ons sekere dinge duidelik verstaan:

  • God is liefde. Al is die reis moeilik sal ons uiteindelik besef dat die reis deur liefde gemotiveer is. Selfs as jy voel day jy nie verder kan nie, het God jou steeds lief.
  • God is almagtig. As ons sukkel is dit nie omdat God nie kan help nie. Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie (Jesaja 59:1).
  • God is alwetend. Niks verbaas Hom nie, want Hy besit al die feite.
  • God is alomteenwoordig. Al voel dit vir ons asof Hy ver is, is Hy steeds by ons.

Ons weet hierdie feite is waar, maar ons harte is soms onseker. Ons moet ons gereeld aan die trou van God in ons lewens herinner.

 

Ons geloofsreis is ‘n reis waartydens ons ontdek dat God vir ons is. Die probleem is dat vrees veroorsaak dat ons dit vergeet. ‘n Skielike krisis en ons vergeet al die jare wat God getrou was. As dit gebeur, moet ons terug dink aan wat God alles in die verlede vir ons gedoen het.

 

Dit is die strategie wat Paulus hier volg. In vers 1 – 7 praat hy van wegruk tot in die derde hemel. In antieke tye was dit die plek waar God gewoon het. Paulus sê dat hy in die teenwoordigheid van God was. Paulus noem dit voor hy van sy huidige probleme praat, want in die lig van alles wat hy gesien het, hoekom sou hy hom oor tydelike probleme ontstel? Onthou dit waarvan Paulus hier praat het veertien jaar vantevore gebeur. Hier kry Paulus sy sterkte by ‘n gebeurtenis wat 14 jaar gelede plaasgevind het.

 

Hoe aanvaar ons God se doel? Deur in die karakter en liefde van God te vertrou. Ons onthou dit as ons onthou van alles wat God vir ons gedoen het.

 

Stadium 3: Kry nuwe hulpbronne van krag (vers 1 – 7)

Die gedeelte eindig op ‘n optimistiese noot: As ek swak is, is ek sterk, Hoekom? Sy swakheid maak hom van God afhanklik. In plaas van vra hoekom as jy swaarkry, vra eerder: “Here, hoe kan my huidige swakheid verander word in krag ter verheerliking van U?” Jy sal verbaas wees oor hoeveel bronne van krag en seën na vore kom.

 

Paulus het nog 12 jaar na hierdie episode geleef – 12 vrugbare jare. Miskien moet ons 2 Korintiërs 12:7 – 10 weer stadig lees. Wat beteken dit om stadig te lees? Dit is ‘n ou geestelike tradisie. ‘n Kort Skrifgedeelte word gelees en herlees. Soms word net ‘n paar woorde gelees; soms gaan ons terug en herhaal hulle. Ons praat so baie van die Skrif, maar ons laat nie toe dat die Skrif met ons praat nie. As ons luister na die Gees wat deur hierdie verse praat, mag ons krag kry in ons beproewing. Dan kan ons ons beproewing hanteer deur ‘n krag wat van buite ons kom.