Ware en aanvaarbare godsdiens (2)

 

If you leave the fountain foul the streams cannot be pure. Renewal must begin with the heart. —C.H. Spurgeon

 

Ware en aanvaarbare godsdiens (2)

[In my persoonlike Bybelstudie is ek besig met Die Brief van Jakobus. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in James – Christ Centered Exposition” gebruik. In hierdie gedeelte maak ek van die direkte vertaling in die Interliniêre Bybel gebruik – CUM]

In die vorige blog het ons na die eerste twee tekens van ‘n ware en aanvaarbare godsdiens gekyk: beheerde spraak en opofferende versorging van mense in nood. Ons kyk nou na die derde teken.

 

  1. Duidelike skeiding van die paaie van die wêreld

Rein en onbesmette godsdiens by die God en Vader is dit … om jouself onbevlek te hou van die wêreld (Jakobus 1:27).

As Jakobus praat van die wêreld verwys hy na die gevalle wêreld. Hy sê dat ons ons onbevlek moet hou. Hy voeg by dat dit teenstrydig is met wat die wêreld doen. Jakobus pas hierdie waarheid onmiddellik toe op die gevaar van diskriminasie of witbroodjies. Diskriminasie kry ons ook in die kerk. Die wêreld hou daarvan om die rykes te eer en die armes te verwaarloos. Dit kan maklik ook in die kerk gebeur.

My broers, moenie partydig wees in die geloof in ons Here Jesus Christus van die heerlikheid nie (2:1)

Geloof en partydigheid is onverenigbaar. Hy begin met ‘n skets van hoe die gelowiges partydig is vir die rykes – net soos die wêreld. In die wêreld eer en respekteer ons die persone wat ons kan bevoordeel. Gemeentes word dikwels beoordeel deur die grootte van hulle begroting, of hulle luukse geboue. Is dit tot voordeel van die armes? Nee, ons doen dit vir die rykes. Ryk mense verwag uitmuntenheid en gemak. En die armes? Dit is amper asof ons vir hulle sê: Sit benede by my voetbankie (2:3); ons sal vir julle die krummels van die tafel gee.

 

Om partydig te wees is natuurlik vir ons. Jakobus herinner die kerk van destyds aan  dinge wat die kerk moet doen en nie moet doen nie.

My broers, moenie partydig wees in die geloof in ons Here Jesus Christus van die heerlikheid nie. Die klem val hier op die heerlikheid van God soos geopenbaar in die persoon van Jesus Christus – sy majesteit en oppermag. As dit die geval is, sal ons nie partydig wees nie, want:

  • Ons sal nie partydig wees as ons God se oppermag oor die rykes sien nie. Jy eer nie die rykes omdat hulle ryk aan geld is nie; jy eer Christus omdat Hy ryk in heerlikheid is. Net Christus is oppermagtig en daarom moet ons oë op Hom rig.
  • Ons onthou Christus se offer vir die behoeftiges. Jesus Christus, die Heerlike, kom na sondaars soos ek en jy en gee sy lewe vir die armes sodat ons in Hom ryk kan wees. Want julle ken die genade van ons Here Jesus Christus, dat Hy ter wille van julle arm geword het, alhoewel Hy ryk was, sodat julle deur daardie armoede ryk kon word (2 Korintiërs 8:9) Jy kan tog nie partydig wees as jy hierdie Christus ken nie.