Ware gemeenskap (1)

 

Iemand het by geleentheid vir Sir James Simpson, die ontdekker van chloroform gevra wat sy grootste ontdekking was: “My greatest discovery was that Jesus Christ is my Saviour.”

 

Ware gemeenskap (1)

Gordon MacDonald het ‘n aantal artikels oor gemeenskap geskryf. Ons gaan ‘n paar blogs daaraan spandeer.

 

Wat beteken dit om ‘n volgeling van Jesus Christus te wees? Dit gaan oor Hom en my. Dit is ‘n goeie begin, maar hierdie solo-geloof is nie voldoende nie. Wat van die belangrike verhouding van Jesus en ons? Dit is die Bybelse konsep van gemeenskap: ‘n plek waar groepe saam bymekaar kom en groei in goddelike karakter en vrygewigheid. Elton Trueblood het gepraat van “consciously inadequate persons who gather because they are weak, and scatter to serve because their unity with one another and with Christ has made them bold.” Ons kan nie vir God ontmoet en liefhê sonder om terselfdertyd mekaar te ontmoet en lief te hê nie. Dit is iets heilig as mense bymekaar kom en God as dié Gas erken.

 

Gemeenskap gaan oor twee of meer mense wat doelbewus kies, nie net om Christus te aanvaar nie, maar ook mekaar te aanvaar. Dit vereis dissipline, nederigheid, liefde, genade en die hart van ‘n dienaar. Dit  vereis volharding en lojaliteit. Geen wonder die Bybel spreek hom sterk uit teen skinder, intimidasie, kwaadword en oneerlikheid nie. Jesus verwag iets spesiaal van mense wat Hom Here noem. Gemeenskap, waarvan Jesus die model is,  is veronderstel om die teken van die Christendom te wees.

 

Dink daaraan: nie prediking, nie gemeentegroei nie, maar gemeenskap soos deur Christus gedefinieer was die kenteken van die vroeë Christelike kerk. Ons is deel van baie kerkgroepe, maar is dit werklik ‘n gemeenskap? Nooi iemand ons ooit in sy hart in – sy drome, vrese, twyfel, geheime en onsekerhede. Nee, ons kry dit baie selde, want ons is bang ons word geoordeel of blootgestel. Ons ontwikkel die vermoë om mense op ‘n gerieflike afstand te hou. Dit is nie ware gemeenskap nie.

 

Die lewe van die kerk vir meeste van ons word gebou op inligting – ons is vriende as ons oor leer saamstem. Daar is maar min verdraagsaamheid met diversiteit. Daarom is die bou van ‘n gemeenskap nie iets wat oornag gebeur nie. Tyd is nodig voordat ek my innerlike hart vir diegene wat ek liefhet, sal oopmaak.

 

Wat is gemeenskap? Dit is wanneer twee of meer mense hulle om die weë van Jesus Christus en sy opdrag om mekaar lief te hê, organiseer – omgee, groei en diens. Elkeen in so ‘n gemeenskap is ‘n gelyke deelnemer; elkeen wil graag groei; elkeen bou in die lewe van ander in; elkeen verstaan dat die einddoel van die gemeenskap is om die invloed van die evangelie in die wêreld daarbuite te projekteer. Weereens Elton Trueblood: “Simple people can be amazingly powerful when they are members one of another. As everyone knows, it is almost impossible to create a fire with one log, even if it is a sound one, while several poor logs may make an excellent fire if they stay together as they burn.”

 

Daar is verskillende soorte gemeenskap in mense se lewens:

  1. Die huwelik is ‘n goeie voorbeeld
  2. Jou kleingroep wat gereeld bymekaar kom.
  3. Die gemeente. Daar is nie baie deursigtigheid in so ‘n groot vergadering nie, maar voor en na eredienste weet ons hulle is daar vir ons.

Daar is sekerlik nog baie ander voorbeelde

 

Gemeenskap is die kern van ‘n ware Christelike lewe. Dit is nie opsioneel nie, maar noodsaaklik vir ‘n gesonde Christelike lewe. God het baie dinge wat Hy vir ons wil leer wat nie sal gebeur as ons vashou aan ‘n solo ondervinding van ons geloof nie.

 

Daar is ‘n ou spreekwoord uit Afrika: “Alone, I have seen many marvelous things, none of which are true.” Die idee hiervan is: Die waarheid – God se stem –  word ten beste in ‘n gemeenskap gehoor en bevestig.